Annemarie Butow schreef in 1996 in een Zuidafrikaanse krant

Van Veen betower Potch met skouspel


EUROPA se kabaret-virtuoos, Herman van Veen, het tydens sy plaaslike optrede elke toeskouer met meesterlike vernuf meegesleur in 'n teaterdroomwêreld van die onverwagte. Van Veen is 'n absolute meester wat soos 'n kulkunstenaar nie vir 'n enkele oomblik ophou verras wanneer hy telkens met 'n nuwe kwinkslag of lagwekkende uitrusting vorendag kom nie. By tye verwissel hy sommer op die verhoog van kosttium of bring soos 'n wafferse towenaar die vreemste voorwerpe uit hoedens, houers en tasse te voorskyn.

foto: chris janssen 1998 Saam met saxofoonspeler Nard Reijnders en begeleier Erik van der Wurff vorm die drie musikante 'n gedugte span wat daarin slaag om 'n polsende skouspel te skep waarin elke musikant tot sy volle reg kom. Die veelsydigheid van hierdie drie kunstenaars laat die toeskouer verstom, veral wanneer Van Veen sy viool uitpluk en die aangrypendste Ierse fiddle-tipe deuntjies met 'n passievolle energie vertolk. Wanneer Van Veen en Reijnders soos twee wafferse operasterre in 'n tweestyd voor sIegs een mikrofoon betrokke raak waarin hulle mekaar voortdurend probeer uitoorlê, kan die gehoor nie anders as om te kraai van die lag nie.

Van Veen slaag daarin om uit elke item 'n selfstandige kunswerk te skep sonder om sy absolute professionaliteit en afronding in te boet of die spanning te verbreek. Van Veen se aanbieding is daarom geheel en al gestroop van die tradisionele spanning tussen kunstenaar en gehoor deurdat hy van die eerste oomblik wat hy op die verhoog verskyn in 'n intieme verhouding met sy gehoor betrokke raak wat hy toegewyd deurvoer tot na die soveelste encore. So word 'n intensiteit van absolute afwagting by elke toeskouer geskep wat Herman van Veen diep in elkeen se hart laat inkruip weens sy opregte en begeesterde vertolking van elke item.

Met sy veelsydigheid van taal en vaardigheid in bykans elke verhooggenretipe lewer Herman van Veen bewys van sy meesterskap op die gebied van 'n ryk teatertradisie wat nog in Suid-Afrika ontgin moet word.



Annemarie Bütow



terug naar de index