Kobus Burger
die Burger SA
“Ware domheid heers daar waar alles vanselfsprekend is.” 12 jan 2009

Dié wysheid kom uit ’n briefie wat die Nederlandse kabaretster Herman van Veen se seun vir hom geskryf het.
Maar – oeps! – dit is die verkeerde stuk papier en nié die brief wat hy oënskynlik beplan het om vir die Stellenbosse gehoor voor te lees nie.

In die wêreld van dié 63-jarige kunstenaar is regtig enigiets moontlik: Hy staan met twee wit ballonne, waarvan die een opstyg en tussen die volmaan en sterre bokant die opelug-teater verdwyn.

Die tweede ballon vermaan hy ernstig: “Bly!” En ja, wragtie, daar bly die ballon getrou aan ’n toutjie hang in die middel van die ­verhoog en “loop” later nuuskierig in die rigting van die gehoor.
Hy pluk ’n paar roosblare en ’n blaartjie word Hanswors van Veen se rooi neus?.?.?.
Soos ’n wafferse towenaar pluk hy “sterrestof” uit sy broeksak om ’n tafeltennisballetjie te laat ­verdwyn, al sien ons almal hoe hy dit lomp in sy mond druk.
Kul jou hier en kul jou daar en hy trek sy wit onderbroek deur sy gulp en sit dit soos ’n mus op sy kop. Later trek hy sy ánder, swart onderbroek tot bykans bo-oor sy tepels à la Borat. En oud en jonk kraai van die lag.
Van Veen, met sy een wit skoen en een swart skoen, verlei sy ­gehoor goedsmoeds om weer deur die oë van ’n kind te kyk. Einste woord “kind” spel ook dink: die ­rede vir die mensdom se vaal ­bestaan – hierdie rasionele, swart-op-wit blik op als.

Tog tussendeur die kraai-van-die-lag-kaperjolle is hy en die ­kitaarspeler Edith Leerkes, musikante van formaat. Leerkes, wat in die verlede meer van ’n begeleier was, is nou in ’n woeste twee­gesprek gewikkel met ’n be­snaarde Van Veen. Hy speel kitaar en bokspring in Leerkes se rigting. Of koggel met sy viool en pronk soos ’n kapokhaan wat ’n swaardgeveg met sy strykstok wil begin.
Die “geveg” word só vurig dat Leerkes en Van Veen binne sowat 90?minute altesame drie snare breek.

Steeds bly hy ook meester van die ironie, absurde en patos.
“Praat ek met God, dan noem ons dit bid. Praat God met my, dan noem ons dit psigose,” mymer hy.
Hy vertel van ’n sigeuner wat in 1957, toe hy 12 jaar oud was, ’n ­viool aan sy ma probeer verkoop het. Of hoe sy kleinseun vir hom oor die foon fluister en hy agterkom dat ta eintlik vir sy ma en pa wegkruip!
As ’n vrou se man sterf, is sy ’n weduwee. Gebeur dit met ’n man, is hy ’n wewenaar. As ’n kind sy ouers verloor, is hy of sy ’n ­weeskind. Maar wat noem ons die ouers wat ’n kind aan die dood ­afgestaan het?
Só wissel hy sy wonderwêreld met wonder af. Daar word panfluit gespeel oor tien vingers en kop ­gestamp (letterlik!) met die vleuelklavier. Vol verwondering voel ’n mens hoe jou hart net soos Van Veen s’n in die goedige opstuur van ’n opera begin swel.
Ná die tyd sal jy dalk wonder of jy nie ’n nuwe bril nodig het nie. Of sónder ’n bril? Of wat van nóg ’n paar oë? Nie om béter te kan sien nie, my kind: om ánders te sien.



Kobus Burger