Marina Griebenow
Die Burger (SA)
VAN VEEN OORROMPELEND EN VERKWIKLIK VERMAAK MET THEATRALE TRUUKS
28 jan 2008

Onder die beoefenaars van die kleinkuns in Nederland, word Herman van Veen gereken as een van die grootstes. ’n Mens hoef bloot te noem dat die kaartjies vir bykans al die konserte in sy opkomende toer daar reeds uitverkoop is.


Van Veen reis al bykans 40 jaar reg oor die wêreld met sy viool, liedjies, stories en kis vol rekwisiete. Hy is terselfdertyd minnesanger, harlekyn, digter, meester van vele instrumente, outeur en ambassadeur vir gewetensake. Hy spog daarmee dat hy die oupa is van ’n sewejarige kleinseun, Sebastiaan, maar die ouderdom het oënskynlik net ’n invloed op sy haarlyn (wat hy desnieteenstaande baie doeltreffend inspan) en nie op sy matelose energie, vlymskerp denke en aweregse humor nie. Wat laasgenoemde betref, het hy genadiglik ’n tipies Hollandse temperament.

Ook in Suid-Afrika geniet hy groot steun, veral by diegene wat verkies dat ’n lied bestaan uit meer as enkelwoord-lirieke en ’n een-vier-vyf-akkoordstruktuur, asook bindingsteks wat die volle spektrum van ’n taal dek en nie net die kragwoorde nie. Sodaniges het Saterdagaand die Endlersaal volgepak vir Van Veen se Onder 4 ogen saam met die kitaarspeler Edith Leerkes. Hul luidkeelse goedkeuring en langdurige staande applous het ’n mens bly gemaak dat iemand daaraan gedink het om Van Veen weer na Suid-Afrika te bring.
Dit was enersyds ’n kenmerkende Van Veen-konsert – intiem, uitdagend, snaaks, skynbaar moeiteloos en musikaal uiters bevredigend – maar andersyds het daar tog ’n klemverskuiwing plaasgevind. Dis nie meer net ’n solokunstenaar wat saam met ’n begeleier optree nie, maar twee kunstenaars in eie reg wat ’n musikale vennootskap bedryf. Leerkes het dit self die beste opgesom. “Wat zo mooi is,” sê sy, “is ik ben wel zijn gitariste, maar hij is ook mijn sanger.”
Van Veen en Leerkes is soos vinkel en koljander. Haar bydrae is bepalend vir die musikale kleur van sy konsert en die vervlegting van haar warm, egte en passievolle spel en sang met sy treffende digkuns en teatrale truuks sorg vir ’n onvergeetlike ervaring.

’n Heerlike aspek van Onder 4 ogen is dat albei dit só geniet om saam musiek te maak. “Ik voelde de warmte van je hand, in ons kleine koninkrijk hier onderaan de dijk, ” sing hulle in die pragtige minnelied “Onderaan de dijk”. Dis amper asof hulle in hul eie klein wêreldjie is daar op die verhoog, maar hul “binnepret” sluit ’n mens nie uit nie. Trouens, dit sleur jou mee.
Van die uitstaande sketse was Van Veen se uitbeelding van ’n pianis se uitvoering van ’n “moderne” klavierwerk en sy vertolking van al die rolspelers in ’n opera, van die bariton tot die koor. ’n Mens het gewonder wat dink die konservatorium-personeel daarvan dat die arme Bösendorfer so deurloop! Ook sy falsetto-weergawe van die “Ave Maria” en sy selfoongesprek met Johnny (Walker) tel onder die hoogtepunte. Maar eintlik was daar te veel om op te noem. Onder 4 ogen was in die geheel oorrompelende, verkwiklike vermaak.