mariana malan
die Burger
Hougaard-omnibus is toonkas van jare 15 feb 2008

DIE sanger Karin Hougaard voeg ’n nuwe kunsvorm by haar bestaande loopbaan as kunstenaar met ’n uit­stalling van haar skilderye, wat van vandag tot eerskomende Sondag in Alice Art in Roodepoort te sien is. Die titel daarvan is Solo.
Sy reik terselfdertyd ’n woordbundel Woorde sonder wysies uit. Dis ’n ­ver­sameling van ongepubliseerde lied­tekste, of, soos sy dit noem, woorde wat nooit liedjies geword het nie. Dit sluit ook afdrukke van haar skilderye, ­mono­drukke en etse in.
Hougaard is in die eerste instansie ’n sanger met ’n passie vir oorspronklike musiek en unieke verwerkings van ­ander mense se liedjies.

Op die dubbel-album Omnibus, wat pas uitgereik is, is ’n indrukwekkende ­veertig snitte van haar reeds bestaande albums. Op die Afrikaanse album begin sy by van haar mees onlangse werk en gaan terug in die verlede om in die laaste instansie af te sluit met “Lui-lui ­Telefoon”, waarmee alles eintlik jare ­gelede begin het.
Op die ander album sing sy in Engels en ander tale en die liedjies kom van ­albums en haar grensverskuiwende ­musiekteaterproduksies, waaronder Meta­­morph en Karin Hougaard sings Queen.
Hougaard se eie werk het ’n besondere bekoring omdat dié musiek en lirieke uit die hart en siel kom.

Sy het ook die vermoë om liedjies van ander wat by haar persoonlik aanklank vind haar eie te maak. Voorbeelde ­hiervan op die album is Lieze Stassen se “Skollieklong”, “Sweef soos ’n Arend” van Mynie Grové en Steve Hofmeyr se “Bly”.
Spesiaal vir die album het sy ’n nuwe verwerking van die liedjie “En toe kom jy” en “Jou tuin” met akoestiese ­begeleiding van Edith Leerkes op ­klassieke ­kitaar.
Dis interessant om haar vroeë werk, soos “Spoortjies” en “Swaeltjie”, met haar latere werk te vergelyk. ’n Mens is dankbaar oor die verdieping wat oor die jare gevolg het. Baie kunstenaars begin op die een noot en wyk nie ’n aks links of regs af van wat hulle doen nie.

Hougaard is ’n kunstenaar wat gedurig verras en voortdurend verbeter. Dis veral waar te neem op die samestelling van die anderstalige deel van die ­omnibus.
Dit val weg met “This is as love as love is gonna get” en sluit af met Herman van Veen se “Je maakt me zo mooi”. Sy vul die ruimte tussenin met onder meer ­Jacques Brel (in Engels) en Freddie Mercury (lewende opnames). Niemand wat haar vertoning gesien het waarin sy Queen se liedjies sing, kon dit vergeet nie. ’n Beperkte oplaag albums van hierdie vertoning is verkoop. Van hierdie snitte op Omnibus is dus baie welkom. Dan is daar ook haar onvergelykbare weergawe – amper elektroniese weergawe – van “No je ne Regrette Rien” en “La vie en Rose”, totaal anders as wat Piaf dit gedoen het.

Voordat ’n mens oordadig raak en elke snit by die naam noem, laat daar dus maar volstaan word met die aanbeveling om hierdie album aan te skaf. Eerder gouer as later.