ERNS GRUNDLING
die Burger
Die wysheid van ’n hofnar, die brutaliteit van ’n moralis’ 2 feb 2008

HY vou sy linkerhand oop. “Hei, het ek dié gister ook gehad?” roep hy verbaas uit en wikkel die vyf lang, uitgestrekte vingers. Sy blik verskerp. “Die hand?.?.?. dis asof ek dit vir die eerste keer sien. Dít is verwondering.”
Op 62 kry die wêreldbekende Nederlandse sanger en skrywer Herman van Veen dit steeds reg om homself daagliks te verras en met ’n sin vir verwondering te leef.
Ons sit in die soel sitkamer van die Lanzerac Hotel buite Stellenbosch, waar hy op ’n blitsbesoek aan Suid-Afrika tuisgegaan het. Dit het twee uitverkoopte optredes in die Endlersaal en ’n kunsuitstalling in die Dorp­straat-galery op die dorp ingesluit.
Langs hom op die rusbank sit die kitaar-maestro Edith Leerkes, sy bestuurder en musikale regterhand wat kaalvoet op die verhoog staan en hom met briljante kitaarspel en sang begelei.
“Ek is nie ’n skilder nie, maar ek skilder,” skerm hy nederig oor die mees onlangse toevoeging tot sy roemryke CV, wat reeds 150 CD’s, rolprente, boeke en die legendariese Alfred Jodocus Kwak (sy teater-karakter wat eens in ’n animasie-reeks omskep is met uitsendings in 48 lande) insluit.
Daarby is hy ’n ywerige kampvegter vir kinderregte en ’n jare lange welwillendheidsambassadeur vir Unicef Nederland. Hy is ook stigter van verskeie organisasies, onder meer die Herman van Veen-stigting, met projekte in Suid-Afrika.

HERMAN dra letterlik en figuurlik baie hoede in sy kragtoer-optredes wat gehore al langer as 40 jaar in vervoering het. Sy nuutste een heet Onder 4 Ogen en het in die Endler telkemale vir staande applous gesorg.
Die een oomblik is hy troebadoer, dan filosoof of tragiese sot met sy geliefde viool onder die ken. In ’n oogknip word hy ’n gek anargis wat sy skaterende gehoor met tafeltennisballe gooi, histeries klavier speel en op die verhoog rondkruip met ’n hoed waaraan ’n bondel ballonne vasgemaak is op sy kop.
Net om ’n mens daarna wind-uit te slaan met ’n kwinkslag of hartroerende staaltjie, voordat hy ’n roos uitpluk en die gehoor seën met ’n verliefde minnesanger se mooiste woorde.
Of dit nou Jacques Brel, Leonard Cohen, sy eie skeppinge of dié van Nederlandse liedjieskrywers of digter is – Herman sorg keer op keer vir wat die Europese pers al “?’n tornado van gevoelens” genoem het.
En so is dit ook wanneer ’n mens ’n onderhoud met hom voer. Ten spyte van die stofsuiers wat vanuit ’n vertrek langsaan raas en die natgeswete bleekbeen-toeriste wat verbyslof om uit die somerson te kom, bly hy aandagtig gefokus en is elke antwoord ’n verrassing. Hy praat stadig en weldeurdag. Mens kan sy Nederlands maklik volg.


GEORGES MOUSTAKI beskryf die intensiteit van Herman se vertonings dalk die beste: “Herman, in jou herken ek die wysheid van ’n hofnar, die brutaliteit van ’n moralis, terwyl jy voordoen dat jou enigste doel is om ons te vermaak.”

Herman bly beskeie oor die inspirasie agter sy werk en vertonings. “Ek kan niks uitdink waaroor ek sing nie. Ek kan alleen sing oor my vader, my moeder, my kinders, ons straat, die boom, die tuin, die reis wat ek meemaak en die boek wat ek lees. Dit is alleen die onderwerpe.”
Sy optredes is vir hom ’n paradoks. “Ek beskryf heel intieme en hoogs persoonlike waarnemings, herinneringe en verhale vir ’n publiek wie se ervaringe soortgelyk is, maar steeds volstrek anders. In ’n vertoning kom alles bymekaar: ek kan baie grappig wees, en heel stom. En heel wys, en heel dom!” sê hy en lag.
Hy kan hom nie ’n wêreld sonder “wettige sotte” voorstel nie.
“?’n Sot of clown maak die werklikheid meer aanvaarbaar. ’n Mens moet kan lag oor jou eie dwaasheid. ’n Sot val immers oor iets wat hy self neergesit het. En jy moet besef die koning kan nie regtig koning wees sonder die nar nie. Want wie is nou eintlik koning: die nar of die koning? Dit is die Jin en Jang, hulle is onlosmaaklik deel van mekaar,” vertel hy.
“As ’n samelewing geen professionele gekke het nie, sit jy met ’n totalitêre stelsel. Die kwaliteit van ’n beskawing het alles te doen met die kwaliteit van sy clowns. Dit is heel belangrik. En ook mooi. Maar dit is ook heel moeilik, as sekere belangrike dinge gesê moet word, soos dat die keiser nie klere aan het nie.”
Volgens Herman moet ’n nar altyd omgekeerd dink. “As als na links gaan, gaan hy regs. As almal juis is, voel hy onjuis. Dit is ’n lastige skaakspel!”

“Maar Herman het ’n mooi manier via die clown,” voeg Edith by. “Dit is ’n belangrike platform om iets te kan sê wat heel goed en duidelik oorkom.”


HY word in Suid-Afrika dikwels as ’n “kabaretster” beskryf, maar dit is ’n benoeming waarvan hy wegskram. Hy vind die kabaret-genre te beperkend en sê dit beteken verskillende dinge in byvoorbeeld Parys en Nederland. “Ek verkies die woord speler, want ek perform,” verduidelik hy. “Ek is gewoon Herman wat van Herman vertel. Ek is ’n musikant en kan my lewe nie sonder musiek voorstel nie. Ek probeer mense ’n heerlike aand besorg oor die dinge wat in hul hart aangaan.”
Waar hy in die verlede ’n bietjie “knie gebuig” en in plaaslike optredes meer Afrikaans gepraat en gesing het, hou hy daarvan

‘Ek kan alleen sing oor my vader, my moeder, my kinders, ons straat, die boom, die tuin?.?.?.,’ sê hy. Beskeie woorde vir ’n kunstenaar wat al 40 jaar lank gehore oor die hele wêreld bekoor. ERNS GRUNDLING het met Herman van Veen gesels op sy onlangse besoek aan Suid-Afrika.