Marian Malan
die Burger
Skilderye sing vir die wat hoor
Nederlandse sanger besoek Stellenbosch vir konserte
20 nov 2007

LIG inspireer Herman van Veen. Veral die lig in Afrika. Hy kyk anders na dinge hier omdat hy dit nie op dieselfde manier in Europa sien nie. En as hy na sy skilderye kyk, is dit asof hy sy siel kan sien.

“Mijn schilderijen zou je kunnen noemen fossielen van mijn ziel. Het is als sneeuw bewaren. Ik strik het licht. Vang het op, voordat het in de duisternis ver­dwijnt.
“Licht staat nooit stil. Licht lijkt het leven zelf. Het is als je schildert, het bijna letterlijk vangen. De afwezigheid van licht is duisternis, schijnbaar onbeweeglijk en zwart. Denk nu aan een man zonder schaduw, die is dood.”

Só praat die man wat mense eintlik as sanger, komponis, skrywer en vermaaklikheidskunstenaar by uitstek leer ken het, oor sy jongste passie.
Hy skilder hoofsaaklik abstrakte werke in skakerings van ’n enkele kleur. Iets daaraan laat hom aan wolke dink omdat jy by elke volgende kyk iets nuuts daarin ontdek.
Hy het nie altyd in die skilderkuns self belang gestel nie. Hy het meer belang gestel in “de vreemdheid van Van Gogh, het robuuste van Picasso, het kwijnende van Modigliani”.
Hy het per toeval begin skilder. Toe sy ouers oorlede is, het hy ’n klompie kiste met hul besittings uitgepak en die gereedskap gekry waarmee sy pa houtsneewerk gedoen het. Sy pa wou graag skilder, maar die oorlog het gekom en in die na-oorlogse werklikhede was daar nie plek hiervoor in sy lewe nie.

In sy eie woorde: “Heb daar op zolder zittend letterlijk aan mijn handen gevraagd: ‘Als jullie van mijn vader zouden zijn, wat zouden jullie dan nu gaan doen?’ Toen ben ik gaan schilderen.”
Hy vertel dat hy skilderwerk uitput­tend vind. Die rede hiervoor is dat hy nie wil ophou nie en dan later sommer ineenstort. Hy beskou dit nie as ’n alternatiewe loopbaan nie. Dis bloot deesdae deel van sy lewe, soos sing en skryf.
Die titel van die uitstalling wat hy na Stellenbosch bring, is What Happens. Dit dui vir hom op die hele skilderproses. Hy begin sonder om te weet wat gaan gebeur. “Het is een avontuur,” verduidelik hy.

Hy het begin deur viole en tjello’s te skilder, bloot omdat dit so na aan hom was.

Hy bring in Januarie sy jongste program, Onder 4 Ogen, na Suid-Afrika. Dis volgens hom ’n versameling herinnerings, sommige van lank gelede en ander van onlangs, selfs van iets wat op die dag van die konsert sou gebeur. Dit kan selfs as ’n musikale dagboek beskryf word. Hy gee ook nie om as mense ou gunstelinge aanvra nie. Heel dikwels vra mense vooraf dat hy ’n sekere liedjie in die program insluit.
Deesdae stal hy dikwels sy skilderye uit en kombineer dit met ’n kort sangprogram. Hy vertel ook die aanwesiges meer van sy skilderwerk en wat dit geďnspireer het. Dit sal die eerste keer wees dat hy so iets in Suid-Afrika aanbied.

Hy deel graag wat hy doen met mense. Daar is nooit ’n selfsugtige vashou aan wat hy doen nie. Dis vir hom asof hy sy werk aan ongeadresseerde adresse stuur. Dit staan elkeen wat daarmee te doen kry vry om daarmee te doen wat hy wil. Dit verskaf hom oneindige vreugde as mense na sy sang luister, lees wat hy geskryf het en nou ook sy skilderye aan hul mure wil hang. Op ’n vraag of skilderye kan sing en of musiek kleurvolle prente kan optower, is sy antwoord: “Schilderijen zingen voor wie de oren heeft en andersom.” Hy weet dat wat elkeen uit sy werk kry, subjektief is. Elkeen hoor sy eie lied en elkeen sien sy eie skildery, meen hy.
Ten spyte daarvan dat hy skilder, staan sy ander werk nie stil nie.
Vandeesweek verskyn sy jongste CD, Nederlanders, met 15 nuwe liedjies daarop. Daar is ook die nuwe DVD Chapeau in 70 lande. Dis in Parys opgeneem en het Nederlandse en Engelse onderskrifte.

Oor nog ’n week of wat kom twee boeke: Goeie Genade met outobiografiese verhale en Medemens oor sy ervarings as kinderregte-aktivis.
Dan werk hy aan die oratorium Windekind, wat die Joodse digter Selma Meerbaum-Eisinger huldig wat tydens die Tweede Węreldoorlog in ’n werkkamp vermoor is. Hy is ook amper klaar met ’n boek oor ’n klein ysbeertjie wat op pad is na ’n woud omdat die ys besig is om onder sy voete te smelt. .

Van Veen bied sy program Onder 4 Ogen om 20:00 op 26 Januarie en om 15:00 op 27 Januarie in die Endlersaal op Stellenbosch aan. Die kunsuitstalling open op 26 Januarie om 11:00 in die Dorpstraat-galery en die titel daarvan is What Happens. Hy sal by die geleentheid ’n paar liedjies sing saam met begeleiding deur sy kitaarspeler Edith Leerkes.

Die 20 werke is in akriel op linne en hout en elke werk is sowat 1x1,5m groot. ’n Brosjure oor Van Veen (in Nederlands) sal ook tydens die uitstalling beskikbaar wees.