31 Augustus 2006 schreef Anton Kreuger in LitNet (ZA)


Nuwe verhoog vir uitvoerende kunstenaars in Soweto


Op 24 September 2006 sal 'n belangrike kulturele gebeurtenis in Soweto plaasvind met 'n sooispit-seremonie vir die Miracle Teater, 'n nuwe teaterfasiliteit in Jabavu White City. Aangesien daar geen formele teatervenues in Soweto is nie, is hierdie projek 'n welkome onderneming. Hierdie teater is 'n inisiatief van die Herman van Veen Foundation.

Tydens 'n besoek aan Suid-Afrika in 2004, het die verhoogkunstenaar Herman van Veen lede van Thesele Creative Society, 'n jong teatergroep uit Soweto ontmoet. Nadat dit aan die lig gekom het dat daar verskeie tronke in Soweto is, maar geen geskikte venue vir hulle om op te tree nie, was Van Veen se kommentaar: "As jy 'n viool in die hand het, het jy nie tyd om 'n vuurwapen ook vas te hou nie."

Die eindresultaat van hierdie ontmoeting is 'n projek om 'n verhoog vir uitvoerende kunstenaars in Soweto te skep, asook 'n fasiliteit waar kreatiewe en opvoedkundige slypskole vir kinders aangebied kan word. Die gemeenskap se behoeftes vir 'n meerdoelige ruimte sal ook hierdeur vervul word.

Te danke aan die finansiële en organisatoriese rol van die Herman van Veen Foundation en hul samewerking met Thesele Creative Society, Tom Roos ('n Vlaamse regisseur wat nou met Thesele saamwerk en geborg word deur die Vlaamse regering), Ipelegeng Gemeenskapsentrum en die Anglikaanse Kerk, word hierdie droom nou 'n realiteit.

Daar is besluit om die teater as deel van die Ipelegeng Gemeenskapsentrum op te rig en sodoende 'n verdere bydra te lewer tot die reeds bekende en hoogs suksesvolle sentrum. 'n Onderbenutte saal op hul gronde (die eiendom van die plaaslike Anglikaanse Kerk) sal omskep word in 'n meerdoelige ruimte met 344 terugtrekbare sitplekke. Dit sal ingerig word met die modernste tegniese toerusting. Planne vir die teater sal binnekort aan die stadsraad voorgelê word vir goedkeuring. Die Suid-Afrikaanse argitek, Fanuel Motsepe, sal die ontwerp, wat plaaslike behoeftes in ag sal neem, behartig.

Die teater sal bestuur word deur 'n gemeenskaplike raad van verteenwoordigers van Thesele Creative Society en Ipelegeng Gemeenskapsentrum. Thesele Creative Society sal die teater as permanente geselskap benut, maar dit sal ook tot beskikking gestel word vir besoekende geselskappe. Na afloop van die voltooiing van die projek, sal al die betrokke partye steeds op professionele, opvoedkundige en finansiële vlakke betrokke bly.

'n Dankseggingsfees sal op Erfenisdag, 24 September 2006, by Ipelegeng Gemeenskapsentrum plaasvind, om die naderende bouproses te vier. Verrigtinge sal met 'n kerkdiens begin waartydens Herman van Veen, Imilonji Kantu Choral Society en Rhythmony (van die Pretoria High School for Girls) sal optree. Hooggeplaastes en bekendes sal die geleentheid bywoon, wat ook 'n sooispit-seremonie om 12:30 insluit. Dit sal gevolg word deur verdere vermaak deur plaaslike musikante, akteurs en dansers.

"Thesele Creative Society and Ipelegeng Community Centre are greatly honoured to be associated with the internationally acclaimed Dutch stage performer, Herman Van Veen. We sincerely thank the Herman van Veen Foundation for sponsoring the Miracle Theatre in Soweto. A theatre has been the missing link in the development of arts and culture in the community." (Thesele Creative Society)



Vir verdere navrae:
Christien Coetzee
Publisiteit en skakelwerk Herman van Veen 2006
Diva Management vir Herman van Veen Foundation
chris_diva@telkomsa.net
084 356 8833
www.hermanvanveen.co.za
LitNet: 31 Augustus 2006