Mariana Malan die Burger |
Hougaard se ‘Hartstukke’ in Dorpstraat | 9 sept 2006 |
DIE produksie Hartstukke wat Karin Hougaard vanjaar op die KKNK die toekenning vir die inspirerendste vrou op die fees laat wen het, is vanaand nog in die Dorpstraat-teater op Stellenbosch te sien. “Dit het baie vir my siel, maar min vir my beursie beteken,” vertel sy met ’n laggie in ’n geselsie voor haar optrede by Die Boer in Durbanville die afgelope week. “Die toekenning het nie werk laat instroom nie, maar ek weet ek het iets spesiaals gedoen. Ek weet die spreekwoord ‘you can’t keep a good thing down’ is in my geval van toepassing.” Hartstukke is ook ’n album, en dit is ’n intens persoonlike stukkie werk. Dis hoofstukke uit haar lewe wat sy met ander deel. Sy deel die donker en ligter oomblikke en luisteraars kan daarmee identifiseer. Dit word ook eersdaags ’n DVD. Die musiek is besonders. Edith Leerkes, Herman van Veen se kitaarspeler, het Hougaard se verwerkings gedoen. Sy word in hierdie uitvoering begelei deur Jonathan Crossley, en saam sorg die twee vir ’n intieme en buitengewone kabaret-ervaring. Ook die visuele element is iets wat nie aldag gesien word nie. |