– Kobus Burger schreef 29 april 1999 in Beeld (ZA)

Van Veen kom in Mei na SA vir opening van kliniek



Herman van Veen besoek Suid-Afrika in Mei, maar nie om konsert te hou nie.

Die Nederlandse kabaretkunstenaar Herman van Veen besoek Suid-Afrika aanstaande maand, maar nie om konsert te hou nie. Van Veen besoek die land om op 17 Mei die amptelike opening van die Columbine-geboortekliniek by die Ndluvo- Mediese Sentrum in Elandskroon naby Groblersdal, by te woon. Dié kliniek staan onder beskerming van die Herman van Veen-Stigting en word deur die Stichting Columbine gefinansier.

In 1996 het Van Veen feesgangers tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaande gehad met sy optredes, en dit in Mei 1997 opgevolg met 'n toer. Hy het toe in onder meer Johannesburg, Pretoria en Potchefstroom opgetree. Met sy jongste besoek beplan hy egter om ook uitgewers en verskeie rolprentvervaardigers te ontmoet.

Hy gaan oor ``toekomstige projekte'' en 'n ``moontlike fliekproduksie in Suid-Afrika'' met hulle praat. Van Veen het al musiek vir rolprente gekomponeer en 'n TV-animasiereeks met die karakter Alfred Jodocus Kwak geskep. Daarvoor is hy in 1990 met 'n Goue Kamera-prys bekroon. Tydens die Berlynse Rolprentfees het hy 'n Silwer Beer ontvang en verskeie pryse met die Internasionale Rolprent-en-Televisiefees in New York. ``Weens organisatoriese struikelblokke is 'n konserttoer na Suid-Afrika vir Herman van Veen tans uitgesluit,'' het Christien Coetzee, Van Veen se agent in Switserland, gesê. Daar is wel sprake van twee private konserte wat nog beplan word. Ná die opening van die Columbine-kliniek sal Van Veen wel vir die gaste 'n kort konsert hou saam met die Nederlandse kitaarspeelster Edith Leerkes en die Laerskool Groblersdal se koor.

Die Herman van Veen-Stigting is twee jaar gelede tydens die kabaretster se toerbesoek aan Suid-Afrika in die lewe geroep. Dit het ten doel om kinders te help en te lei om hul kreatiewe talente en gawes te ontwikkel en uit te leef. Die tweede fase van die ontwikkelingsprojek in Elandskroon is 'n kultuursentrum, wat plek sal hê vir 'n musiekskool, teater en radiostasie. 'n Moontlike volgende projek is om Suid-Afrikaanse wyn ten bate van die stigting in Nederland te bemark. Die stigting se inkomstebron is geld uit die verkoop van Van Veen-T-hemde, truie, pette, reënbaadjies en ander artikels by konserte, die verkoop van Alfred Jodocus Kwak-handelsware, finansiële bydraes van die Stichting Columbine en skenkings van individue.





terug naar de index