Stephanie Nieuwoudt schreef 28 april 1999 in Beeld (SA)


Sanger Van Veen en Diana in die kollig



Die sanger en digter Gert Vlok Nel het vanjaar 'n nuwe program na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geneem, For Those in Peril on the Sea, en sy boek, Om Beaufort-Wes se beautiful woorde te verlaat, is op dieselfde fees bekend gestel. Dit was inderdaad 'n goeie KKNK-jaar vir Nel. Ná drie jaar as een van die vertonings op die KKNK wat gesien moet word, was dit dus interessant om Maandagaand op radiosondergrense (RSG) te luister hoe Nel in Klankbord meer van homself vertel. Ja, het hy gesê, aanvanklik was hy doodskaam. Maar mettertyd het hy shine gekry en van sy skaamheid het langs die pad verdwyn. Vir sy aanhangers is dit goeie nuus. Want waar Nel in die verlede maar skugter was om te encore, het hy onlangs in 'n vertoning in Pretoria sonder huiwering keer op keer gereageer op die gehoor se aandrang op nog liedjies. Meer nog, dit lyk asof hy uiteindelik werklik tuis voel agter die mikrofoon en gevoed word deur sy gehoor se reaksie. Nel het in Klankbord mooi dinge te sê gehad oor Koos Kombuis, wat hy beskou as een van die grootste en belangrikste sangers en liedjieskrywers in Afrikaans. Hennie Maas, programleier van Gastehuis RSG wat môreaand tussen 23:10 en middernag op RSG uitgesaai word, gesels met die Nederlandse sanger Herman van Veen. Van Veen sal telefonies met Maas gesels en luisteraars kry ook geleentheid om vrae aan die sanger te stel. Prinses Diana was 'n eietydse sprokiesprinses. En nou, meer as agttien maande ná haar dood, is duisende mense steeds behep met dié vrou en die dinge wat haar gelukkig en ongelukkig gemaak het. In die program, Diana, the Cult of the Princess, wat vanaand as deel van die Inner Ear-reeks op SAfm uitgesaai word, val die kollig weer eens op haar. Haar dood het die wêreld in rou gedompel. In dié program word daar gepraat met antropoloë, skrywers en kultuur-kommentators oor die fenomeen waardeur mense van verskillende wêrelddele in smart saamgesnoer is. Kan die fenomeen beskryf word as 'n vorm van massahisterie? Of was dit in 'n sekere mate simptomaties 'n manifestasie van pre-millennium-spanning? Die program is deur Radio France International vervaardig en word aangebied deur Rupert Cook. Diana, the Cult of the Princess word om 20:00 uitgesaai en Sondag om 9:30 herhaal.


– Stephanie Nieuwoudt –