Kobus Burger schreef 26 juli 2001 in Beeld (ZA)
Van Veen oorrompel die sinne en roer die hart
Herman van Veen Roodepoort-Stadsteater, Roodepoort
``Ek is in die eerste plek 'n clown,'' het Herman van Veen onlangs
aan Beeld se susterkoerant, Die Burger, gesê. Kabaretkunstenaar?
Beslis nie! Dan eerder musikant.
'n Mens moes jouself Saterdagaand
liggies knyp om jou daaraan te herinner dat jy inderdaad in 'n teater
sit en nie 'n sirkusarena nie. Van Veen se hansworsstreke is
uitmuntend . . . hy boots 'n panfluit na, klap 'n by met 'n
roos dood, bespat niksvermoedende gehoorlede met water en voer 'n paar
skalkse kulkunsies uit.
Sy opstuur van 'n operaproduksie waarin hy al
die rolle vertolk het ja, selfs die koor! was een van die hoogtepunte
en het terselfdertyd sy vernuf as sanger ten toon gestel. Maar onder
dié snaaksighede en stuitighede skuil daar 'n onbeskaamde erns en 'n
skatkis vol universele lewenswaarhede.
Deur sy liedjies, staaltjies
en verhale (wat hy voorlees) en opmerkings neem dié kunstenaar 'n mens
terug tot die bron van menslike gewaarwording en emosie: onskuld, 'n soort
kinderlike onskuld wat nog nie deur die samelewing se sienings, reëls en
dogmas gekontamineer is nie. Daar is die meisie wat haar borste ontdek, die
seuntjie wat vir die eerste keer saam met sy pa na die badhuis gaan, die jong
Herman wat op twee meisies tegelyk verlief raak en later vir sy ma sê hy gaan
China toe. ``Sorg net dat jy voor aandete tuis is,'' was haar antwoord.
(Sy pa se reaksie op sy dilemma was: ``Dit gaan waarskynlik vir die res
van jou lewe so wees.'')
Wat Van Veen telkens regkry, is om sy gehoor te
lei na 'n herontdekking van hierdie oënskynlik onbelangrike gevoelens
en gewaarwordings. Verwondering is kos vir die siel! Die feit dat Van Veen
net ná die Tweede Wêreldoorlog grootgeword het, het waarskynlik hier 'n rol
gespeel. Sy ouers het hom glo geleer niks is vanselfsprekend nie: nie kos nie,
nie sy vel nie, nie 'n hartklop nie.
As alles dus 'n doel het en nie net die
liggaam nie, maar ook die siel en gees voed, gebruik hy die wandeling deur sy
eie lewe om 'n mens te herinner om hierdie gevoelswêreld te erken en vertroetel.
Op hierdie toer word Van Veen begelei deur 'n gedugte span musikante: (weer)
Erik van der Wurff (klavier), Jann (viool) en Edith Leerkes (kitaar). Die kaalvoet
Leerkes en haar intieme kitaarspel het links en regs harte gesteel. Sy is voorwaar
'n vonds wat elemente van die sigeunerjazz-CD Je zoenen zijn zoeter subtiel in
dié vertoning verweef.
Al wat effens gepla het, was wanneer Van Veen lirieke of
tekste moes voorlees. In die vertellings was dit gangbaar, maar met sy laaste
encore, toe hy Praat dan wat (geskryf na aanleiding van sy ma se dood verlede jaar)
gesing het, het sy steun op die teks in sy hand afbreuk gedoen aan die trefkrag
van dié aandoenlike lied. Van Veen oorrompel die sinne op 'n verskeidenheid maniere,
maar hy verdien sy dawerende applous vir die wyse waarop hy ons terugbring na onsself.
Vanaand en môre in die Staatsteater, Pretoria.
terug naar de index