Kobus Burger schreef 26 juli 2001 in Beeld (ZA)

`Alles wat ek doen, is vermaak'



Die Nederlandse sanger, liedjieskrywer en rolprentmaker Herman van Veen se kabaret is te sinies en intellektueel. `Om sinies te wees, kan baie snaaks wees, maar dit frustreer die kyker.

Herman van Veen sit knus op 'n rusbank, skoene uitgeskop en sy een been gemaklik onder hom ingevou. Sy langbroek se pype is effens opgetrek en bokant sy donkerkleurige sokkies steek sy leliewit Europese vel uit. Saans, sê die 56-jarige sanger en liedjieskrywer, as hy op Suid-Afrikaanse verhoë klim, dra hy doelbewus swart. En as die gehore sy wit vel sien, vorm dit 'n skril kontras met sy donker klere.

``Alles wat ek doen, is altyd vermaak. Maar daar is ook altyd 'n statement. Kabaret maak dit (die swart klere en die spierwit bene) ironies of sinies. Ek haat dit om sinies te wees. Na my mening is dit apatie. Dis iets waarvan ek nie hou nie.

``Om sinies te wees, kan baie snaaks wees, maar dit frustreer die kyker. En dit is altyd 'n intellektuele proses. Sinisme is soos om littekens met 'n ritssluiter te hê.'' Hy is dus nie 'n kabaretkunstenaar nie, sê Van Veen. Toe ek hom vier jaar gelede tydens sy konsertbesoek in Johannesburg ontmoet het, het hy sy werk met die volgende metafoor beskryf: 'n Seuntjie staan op 'n kissie. Hy loer oor die tuinmuur en vertel vir sy maatjies hoe lyk die appelboom in die ander tuin.

In dieselfde asem is hy ook 'n reisiger en 'n troebadoer. Heel onlangs het hy oor die muur geloer en 'n groep sigeuners, die Rosenberg-trio, gesien.

``Ek het oor die muur geklim, saam met hulle vakansie gehou en nou vertel ek my storie.''

Sy verhaal is die nuwe CD, Je zoenen zijn zoeter, met sigeunerjazz-liedjies wat hy en die trio opgeneem het. ``Ek het die album opgeneem, want daar was 'n polemiek in Europa oor vlugtelinge.

``Van hierdie vlugtelinge is in vliegtuie gestop en gestuur na plekke waar hulle kwansuis veronderstel is om te wees. Dit is soos om te besluit 'n rivier moet 'n kanaal wees. Ons is almal reisigers.''

Dis dalk hierdie gereelde en dapper reise wat dit vir sy aanhangers én joernaliste moeilik maak om Van Veen in 'n bepaalde kategorie te plaas.

``Ons woon in 'n ge-Coca-Cola-riseerde wêreld. As jy nie die gesig van 'n Coca-Cola-bottel het nie, herken hulle jou nie as 'n mens nie. Op 'n sekere manier is dit gevaarlik.
``Op televisie maak die dood nie seer nie. In 'n rolprentteater maak 'n moord nie seer nie.

``In Nederland begin kunstenaars se loopbane nou in nabootsvertonings en word hulle as die ``nuwe Madonna'' verkoop. Dis daarom suspisieus om jouself te wees.

``Dis een van my gebreke, want ek kan nie presies vir mense sê wat ek doen nie. Al wat ek kan sê, is: `Dit is ek!' ''
Die saadjie vir sy kunstenaarskap is geplant in 'n klein straatjie in Utrecht tussen gewone mense met 'n werkersklasagtergrond.

``My onderwyser, Bram Mok, was 'n Jood wat sy linkerarm in 'n konsentrasiekamp verloor het. Ek het altyd gefluit. Toe gee hy my sy viool wat hy weens sy arm nooit kon speel nie. Hy sê toe ek moet die viool gebruik om te fluit.

``Ek wou egter Robin Hood wees, 'n sokkerspeler of 'n rock 'n roll-musikant. Ek wou nie sy geskenk hê nie; wat 'n ernstige geskenk was. Dit was geskiedenis!

``Ek is na die konservatorium met amper 'n gebroke hart; 'n gelukkige hartseer. Deur die jare het ek die wonder van daardie geskenk ontdek. Dit het my geluk geword. Hoe ouer ek word, hoe meer speel ek viool.''

Sy kreatiwiteit word daagliks in stand gehou deur bewondering. ``Ek kan skilderye, mense, landskappe, die natuur, blomme en kerke bewonder. Dit is my suurstof.''
En verwondering? ``Dit ook, maar verwondering bevat nog 'n vraag ook.''
'n Mens wonder, sê ek, waarom hy so gemaklik met emosies omgaan en sy hart so natuurlik op sy mou ronddra.
``In daardie opsig is ek 'n heel vroulike man. Ek het nog altyd sedert ek 'n klein seuntjie was, verstaan dat dit 'n jammerte is dat mans nie geboorte kan gee nie. As mans is ons slegs besoekers.

`` 'n Vrou neem in en sy gee weer.
``Met gevoelens is ek soos 'n spons: ek neem dinge in. Ek ervaar dinge volkome. Dit gebeur ook met my wanneer ek sing.

``Sang is 'n liggaamlike belewenis. Ek sing met my liggaam.
``My verstand is net die stuurwiel. Bestuur is die maklikste ding op aarde. En ek is slegs die motor.''

Die kunstenaar, meen Van Veen, het nes verpleegsters en onderwysers 'n vername rol om in die samelewing te speel.
``Ons moet 'n groter perspektief sien. Die ou wat die boom buite hierdie tuin gaan afsaag, het geen boodskap nie. Dit is nie vir hom eens belangrik dat die boom wortels het nie.

``En dit is die probleem, want hy weet nie wat hy afsny nie. Ons doen dinge en ons besef nie die gevolge nie.

``As ek nou na my viool kyk, verstaan ek ná jare. Ek is verplig om die gevolge te verkondig. As ek dit ontken, ontken ek myself. En as ek myself ontken, raak ek siek.

``My pa is verlede jaar dood en ons het die laaste dae van sy lewe lank om die kombuistafel gesit en praat.

``Hy het nie 'n hartprobleem gehad nie, maar sy bloedvate het verdig weens die lood wat hy ingekry het in die settery van die rolpers waar hy gewerk het. Hy was nooit van die gevaar van die lood bewus nie. Voor sy dood het hy egter geweet.
``En daar by die kombuistafel het hy vir my gesê: `As ek maar net geweet het, het ek 'n ander paadjie geloop.'

``Dus, respekteer jou gewete. Vra jouself af: `Is dit goed vir my?' Dis die enigste manier om te oorleef met gesondheid.''





terug naar de index