Cas van Rensburg, vryskutjoernalis, schreef in Volksblad 26 Junie 2000 Bladsy 6

Klein Prinsie skryf wonder van lewe oop . . .

en geur dit met knippie humor en titsel sinisme



DIE laaste stuk in hierdie bundel is 'n pragtige, liriese bydrae wat 'n mens byna 'n prosagedig kan noem. Dit heet heel eenvoudig ``Kaap die Goeie Hoop'' en is 'n beskrywing van die skrywer se besoek op 24 Mei 1999 aan Kaappunt, wat hy beskryf as die ``rotspunt agter God se magistrale slotsin''.
En dan lui sy eie slotsin: ``Ek staan op die puntjie van die aarde, soos die Klein Prinsie op sy planeet, en stel onomwonde vas: die lewe is 'n wonder.''

Met die lees van hierdie boek val één eienskap van Van Veen se skryfwerk 'n mens op: Die kinderlike onskuld wat telkens deurskemer - iets wat hy inderdaad met Saint Exupéry se Le Petit Prince gemeen het.
Kinderlike onskuld is miskien ook nie 'n raak beskrywing nie. Dit is eerder 'n soort eienskap wat 'n mens ook in sy verhoogoptredes opmerk en wat eweneens 'n kenmerk van ander sangers soos Judy Garland en Piaf was wanneer hulle skielik in hul uitvoerings gestaan het in 'n houding van onbeskryflike weerloosheid terwyl hulle die skrynendste aspekte van menswees tot iets suiwerends en skoons verhef het.
Asof hulle kinders was wat inderdaad die lewe as 'n wonder gesien het en juis dalk ook omdat hulle die donker kant daarvan die beste geken het.

Van Veen het nie die ``groot donker'' van 'n Piaf of Garland in hom nie. 'n Mens moenie vergeet dat, hoewel hy vandag sekerlik een van die wêreld se voorste kabaretsterre met iets soos 116 CD's op sy naam is, hy sy loopbaan as die Harlekyn begin het nie. Sy verwondering oor die lewe is nie sonder 'n skeut humor en 'n stywe dop sinisme nie.
Nie al die stukke in hierdie bundel kan verhale genoem word nie. Party is eerder vertellinge of gedagtes wat strook met sy verhoogoptredes waar nuansering 'n groot rol speel en die lyf, die storie, die opgetrekte wenkbrou en die lied alles saamwerk.
Die eerste verhale is baie outobiografies. Dit begin met ``Die badhuis'' wat handel oor sy eerste besoek op agt jaar saam met sy pa aan die badhuis ``waar al die groot manne heengaan''.
Dit is 'n heerlike inisiasieverhaal waarvan die belangrikheid weerspieël word in sy ontmoeting met 'n maatjie wat wil hê hy moet kom saamspeel en hy kan, ``asof dit 'n alledaagse ding is'', sê hy gaan badhuis toe.
``My woorde moes 'n enorme indruk gemaak het,'' skryf hy, ``want presies op daardie oomblik begin die kerkklokke lui. Agtuur.''
In die volgende verhaal, ``Voël'', vind ons sy pa wat om vieruur in die oggend vir die vale sy fiets trap hospitaal toe met sy ma aan't hobbel op die bagasiedraer. Daar aangekom, is hulle die trap op ``en op die voorlaaste trap gebeur dit: ek tree vir die eerste keer op''.
Dit is die Klein Prinsie se stem dié wat sy toonaard behou al kom Ans ook in die prentjie. Want sy was ``een-en-al-bloes'', wat sy maag amper net so van bo tot onder by die pieletjie geprikkel het soos die afgly aan die klimtou op skool. 'n Mooi manier om daardie seunservaring van ``een-en-al-bloes'' te stel. Og, en dan die Blonde Truus, 'n kruising tussen Doris Day en Diana Dors wie se borste soos ``twee kinderhofies'' gedobber het. Die Klein Prinsie was onskuldig, maar nie onnosel nie.

Vir Afrika-lesers is van sy laaste verhale van die opperste belang. Trouens, die verhaal ``Noag'' oor die besoek aan 'n wildtuin in Afrika behoort 'n voorgeskrewe werk te word vir alle kinders van die toekomstige K21-bedeling wanneer ekologie, toerisme en bowenal ons benadering van die Godgegewe natuur en sy diere op hierdie ryke vasteland behandel word.

``Braai'' is 'n heeltemal ander storie, een van die belangrikste in die bundel. Dit bied 'n skuinserige kyk van buite op Suid-Afrika. Dit begin in 'n kroeg in Pretoria waar 'n Nederlander wat al jare in die land woon, vertel dat hy deesdae altyd 'n rewolwer by hom dra.
Dit maak 'n draai in Bloemfontein waar die ``braai'' ter sprake kom en eindig in Soweto. Dit is al wat 'n mens kan sê, want dit is 'n surrealistiese verhaal wat vir elke leser 'n eie en dalk gans ander betekenis gaan hê.
Daar is nog meer in hierdie bundel, verhale oor Brel, Sinatra, die Berlynse Muur en, o ja, daardie Franse nooi wat op 'n aand na 'n vertoning vir hom kom sê het: ``Voulez-vous coucher avec moi?'' Aha, lees maar self of hy met haar in die kooi beland het.

Dit is so goed om 'n slag in Kievitdwarsstraat 52, Utrecht, te kuier. Uit hierdie ``hoë smal huis met drie verdiepings'' kry 'n mens 'n ander blik op menswees - ook op Afrika.
Die oorspronklike Klein Prinsie het mos hoeka iewers in die Sahara sy verskyning gemaak. Hierdie Klein Prinsie van Utrecht staan uiteindelik op die ``appendiks van Afrika''. In sy verbeelding sien hy al die vaarders, Portugees, Hollands, Engels: ``Ek hoor stemme kreun, die stemme van slawe, die geskreeu van sinkendes, die gelal van drinkendes, die stoomboot met vlugtelinge, die sugtendes, die oorlogskepe van die Duitsers, die kruisers van die Russe. Langs my groei die Leucadendron Lauriolum langs 'n doodgewone botterblom, sê die houtbordjie.''

Ten slotte: dit is weer Daniel Hugo wat uit die Nederlands vertaal het. Hy bewys Afrikaans 'n guns.



- Deur Cas van Rensburg, vryskutjoernalis.

VERHALE.
Deur Herman van Veen. Vertaal deur Daniel Hugo. Queillerie. R69,95.





terug naar de index