Rondebosch schreef 25 juni 2001 in Die Burger (ZA)

Van Veen ontroer met optrede



AS Afrikaanse elke dag op pad vorentoe, maar ook terug na haar kern, was daar kultureel gesproke die lewe voor Herman van Veen, en ná verlede Dinsdagaand by die Kunstekaap die lewe daarna. Dit was vir my 'n soort katarsis om hierdie diepsinnige nar met die sublieme stem en ongelooflike musikaliteit in aksie te sien. Sy opvoering het my ontroer soos selde tevore.

Ek het nog nooit so hard gewens ek was Nederlands magtig nie, maar in my diepste wese het die taal van my voorouers 'n eggo gevind. Waar ek serebraal gesukkel het om te verstaan, het ek op 'n oersintuiglike vlak moeiteloos gevolg wat hy met sy kuns sê.

Ek wonder hoeveel mense besef het dat Fanus Rautenbach verantwoordelik is vir die meesterlike vertaling van die immergroen lied, "If you go away" ("Moenie weggaan nie") - opgeneem deur Laurika Rauch op haar Brel-album - wat Van Veen pragtig in Afrikaans gesing het.

Ek dink dikwels oor hoeveel tyd en toewyding dit van my - en seker talle ander Afrikaanses - geverg het om die wêreldtaal, Engels, en die kultuur wat daarmee saamgaan, te leer ken. Dit was goed so, want in die spieël van 'n ander kultuur herken jy uiteindelik die kosbaarheid van jou eie. Ek dink ons het in daardie apartheidsjare toe Afrikaans die ampstaal was, ironies genoeg ietwat van ons oorsprong vervreemd geraak.

Skaam moet ek erken dat ek meestal Engels buite skool- of werksverband gelees het - Die Burger was lank amper die enigste leesstof wat ek in my eie taal gelees het! Jeanne Goosen, Wilma Stockenström en Antjie Krog het onlangs eers daadwerklik in my lewe gekom; wat het ek tog gemis!

So met die verloop van tyd sedert Afrikaans vry geword het, hunker ek om meer en meer in my moedertaal te hoor, te sien en te lees. Maar daar is nie genoeg om die honger te stil nie. Daarom is die besoeke van kunstenaars soos Van Veen en Stef Bos sulke oases.

Dank Vader hier is op eie bodem iemand soos Amanda Strydom wat met haar formidabele talent nie net vir ons wat in Afrikaans lag en droom en huil nie, maar ook vir baie ander, toegang gee tot groot hedendaagse literêre figure soos Hennie Aucamp en Deon Opperman. Ons sal seker eers veel later die omvang van haar baanbrekerswerk en besondere bydrae tot ons taal besef.





terug naar de index