Persverklaring deur Diva Management vir Muse Events

Kabaretmeester terug op Suid-Afrikaanse verhoë!



Wat gebeur daar na die dood? Geen idéé. Ék gaan my in elk geval met 'n skeermes laat begrawe. - Herman van Veen

Die hemel is weer helder. Kaap de Goede Hoop. Staan op die puntjie van die aarde, soos die Kleine Prins eens op sy planeet, en stel onomwonde vas: die lewe is 'n wonder. - Herman van Veen


Herman,
In jou herken ek die wysheid van 'n hofnar,
Die brutaliteit van 'n moralis,
Terwyl jy voordoen dat jou enigste doel is om ons te vermaak. - Georges Moustaki


Die Nederlandse kabaretmeester Herman van Veen sal Suid-Afrika in Augustus/September vanjaar vir 'n konserttoer besoek. Besprekings is nou oop vir Hoed af, Herman van Veen, sy derde nasionale toer ter plaatse. Hy sal deur Edith Leerkes op klassieke kitaar en Wieke Garcia op perkussie begelei word.

Vanjaar is nie net die viering van Van Veen sestigste verjaardag nie, maar ook die viering van sy 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf. Aangesien hy 'n spesiale verbintenis met Suid-Afrika voel, wil hy graag 'n deel van hierdie spesiale jaar hier deurbring.

Van Veen is die soort kunstenaar wat jou die een oomblik laat skreeu van die lag en jou die volgende oomblik met 'n emosionele uitklophou in trane het. Hy het al diep spore op die węreld se kabaretverhoë getrap en het meer as 130 CD's opgeneem. Hy is ook bekend as skrywer van boeke en draaiboeke en is medestigter van vier stigtings, wat veral op die regte van die kind fokus.

Hierdie Nederlander geniet sterstatus in verskeie Europese lande en tree sonder enige moeite in Nederlands, Duits, Engels en Frans op. Hy skryf en komponeer die meeste van sy materiaal self of maak gebruik van uiters talentvolle skrywers/komponiste. Die sterk musikale aspek van sy vertonings word ondersteun deur stories en anekdotes uit sy lewe en spontane en onverwagse hansworsery.

Hoed af, Herman van Veen word aangebied in die Kaapse Internasionale Konferensiesentrum op Saterdag 27 Augustus, by die Mosaďek in Johannesburg op Donderdag 1 September, en in die SA Staatsteater in Pretoria op Saterdag 3 September. Besprekings by Computicket.




Herman van Veen se CV


Herman van Veen, sanger, skrywer van liedjies, sprokies en verhale, is op 14 Maart 1945, tydens die Tweede Węreldoorlog, in Utrecht, Nederland, gebore. Sy musiektalent word vroeg reeds ontdek deur 'n laerskoolonderwyser wat vir hom 'n viool present gee in 'n poging om hom te laat afsien van sy aanhoudende gefluit.

Hy bestudeer klassieke sang, viool en musiekonderwys aan die Konservatorium van Utrecht. Sy eerste stap in die rigting van kabaretwerk begin as 'n eindeksamenkonsert saam met vriende van die konservatorium. Tydens die konsert waag Herman dit om met parodie, wilde spronge en vreemde danspassies uiting te gee aan sy kreatiewe impulse. Dit lei tot sy debuut in 1965 met die soloprogram Harlekijn. Sedertdien tree hy internasionaal op. Sy optredes geskied in vier tale (Nederlands, Duits, Frans en Engels).

Sy eerste bundel verse en verhale word in 1969 gepubliseer. Die eerste boek oor sy beroemde geesteskind, Alfred Jodocus Kwak, verskyn in 1979 en is in 20 tale vertaal. Dit word later verfilm as 'n animasiereeks wat oa ook deur die SAUK uitgesaai is. Tot op hede het hy 132 CD's opgeneem, 6 DVD's uitgegee, en 60 boeke en tientalle draaiboeke en teatertekste geskryf. Hy het die afgelope paar jaar ook regiewerk begin doen.

Herman was jare lank bestuurslid van en welwillendheidsambassadeur vir Unicef Nederland. Hy het vier organisasies gestig (Colombine, Stichting AJK, Stichting Roos en die Herman van Veen Foundation) wat hul op die regte van die kind toespits en klein projekte in ontwikkelingslande ondersteun, oa ook in Suid-Afrika.

In 1976 het Herman die Louis Davidsring ontvang - die hoogste toekenning wat in Nederland aan 'n kabaretkunstenaar gemaak kan word. In 1993 is hy deur die Nederlandse koningshuis tot Ridder in die Orde van Oranje Nassau geslaan. Vir sy besondere bydrae tot die bevordering van Nederlands-Duitse verhoudinge is hy in 1999 deur die Bondspresident van Duitsland vereer met 'n verdienstekruis, die Verdienstkreuz am Band des Verdienstordens der Bundesrepublik Deutschland.

Hy is ook met verskeie internasionale pryse bekroon, waaronder die Goldene Kamera (vir Alfred Jodocus Kwak) in Duitsland, 'n Silwer Beer van die Berlynse Filmfees, agt Edison-toekennings in Nederland, die Prix d'Humanité in Frankryk en verskeie pryse op The International Film and Television Festival in New York. In 2002 het hy in Nederland die Radio 2 Zendtijdprijs ontvang en in Frankryk is sy CD en teaterproduksie Chapeau in 2003 met die Prix Charles Cros de littérature musicale 2003 en die Le Prix Internationale de la Francophonie 2003 bekroon.

Van Veen is in 2004 vereer met die World Peace Flame, 'n simbool vir vrede, vryheid, eenheid en waarheid, geďnspireer deur die ewige vlam in die huis van Mahatma Gandhi.

In 2005 vier hy sy 60ste verjaardag, asook 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.
Van Veen het Suid-Afrika in 1996, 1997, 1999, 2001 en 2004 besoek vir optredes en ter bevordering van die Herman van Veen Foundation se projekte.



LitNet: 23 Mei 2005