21 augustus 2005 verscheen in IAFRICA.COM

Hoed af, Herman van Veen



Hoed af, Herman van Veen

Haydee Hollander
Sun, 21 Aug 2005

Hoed Af, Herman van Veen word in die Europese pers as 'n "tornado van gevoelens" beskryf en inderdaad is van Veen die soort kunstenaar wat jou hartsnare behoorlik en sekuur kan roer. Hy is minnesanger van formaat, maar ook storieverteller en uitstekende instrumentalis (hy speel onder meer viool), liriekskrywer en komponis, komediant en mimiekkunstenaar. Kortom, 'n meester van die verhoog en sy vakgebied (hy het onlangs 60 geword én sy veertigste jaar in die teaterbedryf gevier maar verbaas steeds met vindingryke en vernuwende werk).

Van Veen is ewe tuis in Nederlands, Engels, Duits en Frans. 'n Duitse resensent beskryf hom só: "Hy't gekom, gesing en geseëvier..." tog is van Veen nie "skadeloos" nie en huiwer hy nie om sosio-politiese kommentaar te lewer soos dit van 'n groot kabaretis verwag word.

Hy het meer as 130 CD's, 6 DVD's en sestig boeke (kinder- en volwasse lektuur) die lig laat sien, filmdraaiboeke geskryf en die afgelope paar jaar die regie behartig vir verskeie film- en teaterproduksies. Die eerste boek van sy beroemde geesteskind Alfred Jadocus Kwak verskyn in 1979 en is in 20 tale vertaal. Kwak is later verfilm tot animasiereeks wat onder andere deur die SAUK uitgesaai is. 'n Gedeelte van die inkomste verkry uit die draaiboek hiervan gaan aan die Stichting Colombine, waarvan Herman mede-stigter is. Dié stigting inisieer en finansier kleinskaalse projekte in ontwikkelingslande en in Nederland onder die leuse "Deel die Węreld".

In Benoni het hy in 1997 saam met Ron van Eeden en Maarten Sikking die Herman van Veen Foundation gestig en hulle doelwit is om kinders te help en te lei om hulle kreatiewe talente en gawes te identifiseer en te ontwikkel.
Van Veen tree gereeld op met simfonie orkeste waaronder die Amsterdams Baroque Orchestra onder leiding van Ton Koopman. Onlangs het hy en Edith Leerkes 'n keur van lieder van Franz Schubert opgeneem. Sy węreldtoer saam met The Rosenberg Trio (en album met die titel je zoenen zijn zoeter in Afrikaans met die titel jou soene is soeter) word as 'n musikale hoogtepunt op die Nederlandse musiekverhoog beskou. Hy skryf ook film- en balletmusiek. In Europa is hy ewe gewild by die media en gehore en reeds drie jaar vooruit vol bespreek. Hy is een van die weinig nie-Franstalige kunstenaars wat dit kon regkry om gehore by die beroemde Olympia Teater in Parys (waar kunstenaars soos Brel, Piaf en Montand beroemd geword het) aan sy voete te hę. Van Veen is 'n toegewyde filantroop en mede-stigter van vier stigtings wat daarop ingestel is om na die regte van die kind om te sien. In 2004 is hy vereer met die "World Peace Flame", 'n simbool vir vrede, vryheid, eenheid en waarheid en geďnspireer deur die ewige vlam in die huis van Mahatma Ghandi.

Hy is in 1945 gebore en bestudeer sang, viool en musiekonderwys aan die Utrechtse Konservatorium. Daarna stig hy saam met Erik van der Wurff die musiek- en teatergroep Harlekijn. Hierdie musikale, clowneske eenmanvertoning vorm die basis vir 'n indrukwekkende internasionale loopbaan. Hy en sy medewerkers het reeds talle internasionale toekennings ontvang, waaronder die Goldene Kamera in Duitsland, 'n Silwer Beer van die Berlynse Filmfees, agt Edison toekennings in Nederland, die Prix d'Humanité in Frankryk en diverse pryse op The International Film and Television Festival in New York. In 1976 het hy die Louis Davidsring ontvang - dit is die hoogste toekenning wat in Nederland aan 'n kabaretkunstenaar gemaak kán word en in 1993 is hy deur die Nederlandse koningshuis tot Ridder in die Orde van Oranje Nassau geslaan. Vir sy besondere bydrae tot die bevordering van Nederlands-Duitse verhoudinge is hy in 1999 deur die Bondspresident van Duitsland vereer met 'n verdienstekruis, die "Verdienstkreuz am Band des Verdienstordens der Bundesrepublik Deutschland". In 2002 het hy in Nederland die Radio 2 Zendtijdprijs ontvang en in Frankryk is sy CD en teaterproduksie Chapeau in 2003 met die Prix Charles Cros de littérature musicale 2003 en die Le Prix Internationale de la Francophonie 2003 bekroon.

Van Veen het Suid-Afrika in 1996, 1997, 1999, 2001 en 2004 besoek vir optredes en ter bevordering van die Herman van Veen Foundation se projekte. Een van sy ideale vir die stigting is dan ook die oprigting van 'n teater in Soweto.
In Hoed Af, Herman van Veen kan gehore verwag word om betower te word deur 'n mengsel van ironie, persoonlike anekdotes, 'n bietjie melankolie en briljante musikante. Edith Leerkes, 'n klassieke kitaarspeler en Wieke Garcia (perkussie) sal Van Veen tydens die toer begelei.