21 mei 2005 verscheen in een Kaapstads Dagblad



Herman van Veen maak Kaapse draai

Wilde spronge, dansery, parodie deel van optredes

DIE Nederlandse kabaretmeester Herman van Veen vier vanjaar sy 60ste verjaardag én 40 jaar in die vermaakbedryf met sy derde toer na Suid-Afrika in Augustus en September. Dit sal heet Hoed af, Herman van Veen, en hy sal deur Edith Leerkes op die klassieke kitaar en Wieke Garcia op perkussie begelei word.

Op Van Veen se vorige besoek hier het Herman Wasserman die ervaring só in die Die Burger beskryf: ". . . kabaret op sy teatrale, snydende, musikale en professionele beste . . ."

Van Veen is in 1945 in Utrecht gebore, en sy musiektalent is van vroeg aangemoedig toe 'n laerskool-onderwyser vir hom 'n viool gekoop het in 'n poging om hom van sy alewige fluitery te laat afsien. Hy het in klassieke sang, viool en musiekonderwys aan die konservatorium van Utrecht gestudeer.


In sy konserte waag Van Veen dit om met parodie, wilde spronge en vreemde danspassies uiting te gee aan sy kreatiewe impulse. Dit lei tot sy debuut in 1965 met die soloprogram Harlekijn. Sedertdien tree hy internasionaal op. Sy optredes geskied in vier tale: Nederlands, Duits, Frans en Engels.

Hy het al meer as 130 CD's opgeneem en is ook bekend as skrywer van boeke en draaiboeke, asook as mede-stigter van vier stigtings wat veral op die regte van kinders fokus. Verlede jaar is die World Peace Flame aan hom toegeken - 'n simbool vir vrede, vryheid, eenheid en waarheid, geďnspireer deur die ewige vlam in die huis van Mahatma Gandhi.

"Met gevoelens is ek soos 'n spons: ek neem dinge in. Ek ervaar dinge volkome. Dit gebeur ook met my wanneer ek sing," het hy destyds aan Beeld, Die Burger se susterkoerant, gesę. "Sang is 'n liggaamlike belewenis. Ek sing met my liggaam. My verstand is net die stuurwiel. Bestuur is die maklikste ding op aarde. En ek is slegs die motor."

Kapenaars kan Hoed af, Herman van Veen op 27 Augustus om 20:00 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum beleef. Besprekings word by Computicket gedoen. Meer inligting is by www. hermanvanveen.co.za beskikbaar.