Herman Wasserman schreef 20 juni 2001 in Dieburger (ZA)
Minder refleksie en meer humor vir Van Veen
HERMAN VAN VEEN sien daar ontspanne uit waar hy op die stoep van die
gastehuis die vorige aand se vertoning in heroënskou neem. Aan die begin van
die aand, sê hy, was hy nog huiwerig oor die taalverskil, of die gehoor
alles sou begryp. Maar ná twee liedjies, het hy besef ``ons is vriende in
die taal''.
Hyself kan Afrikaans ook al makliker verstaan sedert sy vorige besoeke aan
die land. Sy vertoning, wat heelwat elemente van sy vorige Kaapse optrede
herhaal, is egter nie spesifiek gemik op Suid-Afrikaanse gehore nie, sê hy,
maar ``gewoon die dinge wat my vandag interesseer''. Hoewel sy
Suid-Afrikaanse aanhangers telkens versoeke uitroep vir van sy treffers sy
huidige konserte bevat minder van sy alombekende treffers, en selfs 'n lied
wat nog nie voorheen uitgevoer is nie is sy konserte hoogs persoonlik.
`` 'n Vertoning is altyd 'n wandeling deur my lewe,'' sê hy. ``Ek wil vertel
hoe dit op die oomblik met my gaan. As ek gehoor gee aan versoeke, raak ek
'n klimtol.'' Sy huidige konserte is grootliks gestruktureer rondom sy
ouers, wat onlangs oorlede is die rede waarom 'n toer verlede jaar afgestel
is.
Van Veen is, soos dikwels die geval is met Europese besoekers, ook gaande
oor die Suid-Afrikaanse natuurskoon, die groot afstande en die klimaat. Hy
raak filosofies daaroor: ``Dis asof tye mekaar hier ontmoet. Nêrens anders
is die grens tussen ons en die tyd so groot nie. In Suid-Afrika is soveel
oorspronkliks nog intakt. Ek wil die wêreld dit toebrul: `Bewaar dit! Moet
dit nie vercocacolaseer nie!' ''
Tog, as 'n mens verwag het dat Van Veen se besoeke aan Suid-Afrika neerslag
sou vind in sosiale kommentaar in sy optrede, sal jy teleurgesteld wees. Wel
sing hy twee liedjies in Afrikaans en pas hy van sy grappies en vertellinge
(heelwat uit sy kortverhaalbundel Verhale, vertaal deur Daniel Hugo) aan vir
'n Afrikaanse gehoor, maar sy metafoor vir onreg of lyding bly Europees, met
name veral die Tweede Wêreldoorlog. Waarom het hy vroeër, in sy lied
``Signaal'', van ``de apartheidswaan'' gesing, maar sê niks oor die
hedendaagse Suid-Afrika nie?
``Want ek het nie die reg nie. Dit is vir my 'n etiese beginsel om slegs te
vertel oor hoe ek die wêreld ervaar. As mense dit so verkies, kan hulle
hulself in my vertellings spieël. As ek byvoorbeeld my `Kyrie Eleison'-lied
sing, vra ek: `Ontferm U tog oor ons spul losers.' Maar ek kan nie as 'n
ingevliegde Europeër my uitspreek oor 'n situasie wat ek subjektief ervaar
nie.
``My betrokkenheid by Suid-Afrika lê eerder op die vlak van die daad. Ek het
baie geld hierheen gebring, en eerder as om op 'n verhoog te gaan
polemiseer, doen ek iets daadwerkliks.'' Van Veen verwys na sy talle
ontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika, soos die Herman van Veen-stigting wat
onderwysprogramme en kulturele aktiwiteite steun, soos 'n studiefonds, 'n
geboortekliniek in Mpumalanga en 'n Pretoriase jeugorkes.
Toe hy die eerste keer die land besoek het, sê Van Veen, was hy ``in 'n
skoktoestand'' oor die littekens van die verlede wat hy oral kon sien. ``Dit
was so erg dat dit my verlam het ek was stomgeslaan, en het myself afgevra
hoe dit in godsnaam moontlik kan wees vir so iets om te gebeur. Toe het ek
die stigting opgerig.''
Maar is die betrokkenheid by maatskaplik-politieke vraagstukke nie 'n
essensiële deel van kabaret nie?
``Ek beskou myself nie as 'n kabaretkunstenaar nie. 'n Kabaretkunstenaar is
iemand wat die aktualiteit karikaturiseer of ironiseer op 'n nie noodwendig
professionele manier nie. Daarenteen is 'n kleinkunstenaar professioneler in
sy omgang met die muse. Dit word egter altyd gedoen vanuit sy eie kultuur
dis heel volks. Maar kleinkuns kan wel maatskaplike aspekte bevat. Ek is
egter 'n musikant. Als wat ek doen, vertrek vanuit die musiek.
``Taal is wel die spieël van my siel, maar dis minder van 'n intellektuele
voertuig as in kleinkuns of kabaret. Ek staan eerder in die tradisie van die
troebadoer.'' Soos Stef Bos, dus, wat ook hier 'n stewige aanhang het?
``Ek weet nie veel van Stef Bos nie, behalwe dat hy ook van Utrecht kom, min
hare en blou oë het. Maar ons het bietjie dieselfde benaderingswyse, ons is
op 'n manier broers. By hom is die lied egter primêr, by my is humor meer
belangrik. Ek is in die eerste plek 'n clown.''
Noudat hy die humor noem . . . Sy vorige vertoning in Kaapstad het, as die
geheue 'n mens nie in die steek laat nie, heelwat meer erns en melancholie
bevat. Dit wil voorkom asof hy veel meer grappe maak in sy huidige
vertoning, meer steun op lawwighede en selfs slapstick. 'n Mens wonder of
dit iets te make het met hoe hy sy gehoor takseer? Of konsentreer hy in die
algemeen deesdae meer op die ligter sy?
``Vreugde speel beslis 'n al groter rol in my werk. Daar is minder refleksie
en meer humor. Dis iets wat met die tyd kom. As ek deesdae op 'n wandeling
'n blom teëkom, voel dit vir my soms asof ek nooit weer daarvan wil weggaan
nie. Waar ek vroeër 'n boek een keer deurgelees het, lees ek dit nou vier
keer,'' sê hy op tipies kripties-poëtiese wyse om iets te kenne te gee van
sy gewaarwordinge. Net soos hy telkens met anekdotes wys op die ironieë en
die paradokse van bestaan. Soos 'n vrou met 'n hartsiekte wat hy op 'n
lughawe ontmoet het, vir wie haar sukkelende staptog van die vliegtuig na
die aankomssaal 'n verder reis was as die duisende kilometer wat sy per
vliegtuig van Europa afgelê het.
Nee, hy vind die Suid-Afrikaanse gehore allermins oppervlakkig. Die
Suid-Afrikaanse publiek stem vir hom ooreen met die Vlaamse en die
Oostenrykse, ``relatief rustig, minder ekstrovert as byvoorbeeld Frankryk''.
``Dis 'n filosofiese publiek, wat met ingehoue asem luister en nadink. Die
saal is soms oorverdowend stil. Daar was tye gisteraand dat ek dog: `mense,
'seblief, asem nou uit, anders kom ons vanaand almal hier saam om!''
Herman Wasserman
terug naar de index