Theunis Engelbrecht schreef 20 mei 1997 in Beeld (SA)

Van Veen se kuns groot én groots

Dié Nederlander hou doodeenvoudig en doodgewoon konsert



Die hooggeleerdes van die kunswêreld beskryf dit wat Herman van Veen doen met die pretensieuse term ``kleinkuns''. Mense wat 'n geurtjie van elitisme en snobisme ruik in 'n term soos dié, moet egter nie om die bos gelei word nie. Van Veen se kuns is groot én groots. (Behoede ons as die geleerdes die dag met die term ``grootkuns'' kom...)
Sy puik konsert het baie gedagtes deur 'n mens se kop laat vlieg, onder meer oor die skade wat Suid-Afrika gely het weens die kulturele isolasie deurdat ons jare lank nie blootgestel kon word aan werk van hoogstaande gehalte soos dié nie. Kultureel gesproke is Suid-Afrika 'n agtergeblewe gemeenskap. (En wat word daaromtrent gedoen?)
Van Veen was doodeenvoudig verbluf fend. Hoog- en ander geleerdes kan maar skarrel om 'n etiket vir sy werk te kry tot hulle blou is. Van Veen hou doodeenvoudig en doodgewoon konsert. 'n Mens kan akademies aankarring oor die voortreflikhede van sy werk, maar gemeet teen die inhoud van sy werk, is dit onbenullig.
Van Veen slaag daarin om 'n mens emosioneel aan te raak en te manipuleer met musiek en stories wat terselfdertyd vol spot en erns, bevryding en hartseer, diep en eenvoudig is. En wat hy blootlê nadat al die maskers afgestroop is, is weerlose menslikheid, op só 'n manier dat dit 'n gevoel van deernis skep.
Wat die musiek betref, was daar 'n goeie keuse uit sy omvangryke repertorium van sewentig CD's van sy vroeë werk soos Niet alleen van die album Op handen tot die titelsnit van sy jongste Hollandse CD, Sarah. Hy het ook liedjies gesing van sy Afrikaanse CD, 'n Teer gevoel, waarvan veral Butterfly klink soos nog 'n klassieke Van Veen- treffer.

Oor die begeleiers, Erik van der Wurff (klavier) en Nard Reijnders (saxofoon, klarinet en sang), se talente kan 'n mens net hiperbolies skryf.
Saam met die musiek kom Van Veen die akteur, die mimikus, die nar, die satirikus en court jester. Liefde is een van die deurlopende temas in sy werk, en sy skets daaroor met twee klein stukkies papier in die hande was voortreflik.
So ook sy nou reeds beroemde tennisskets en die manier waarop hy die gehoor se applous ná een liedjie gedirigeer het. Die voorbeelde is baie, maar 'n mens hoef nie na hulle te soek nie, want die konsert was van begin tot einde hoogstaande. Hier in die kulturele woestyn is Van Veen se konserte soos manna. Mense wat dit misloop, mis beslis iets baie besonders. Hy is 'n geniale kunstenaar.

Herman van Veen tree môre en Woensdag op in Bloemfontein en Saterdag in die Witsteater, Johannesburg.


Theunis Engelbrecht