– Thys Odendaal schreef 30 maart in Beeld (ZA)

Herman van Veen kom in Mei weer konsert hou



Herman van Veen . . . konserte, boek, meesterklas en 'n CD.


Die Nederlandse chanteur en kabaretster extraordinaire Herman van Veen, wat twee jaar gelede gehore in stampvol sale met sy besonderse vertonings in Suid-Afrika betower het, keer vanjaar terug vir sewe konserte.

Dié konsertreis val ook saam met die bekendstelling van 'n nuwe boek en 'n CD. Die boek is 'n bundel kortverhale, pas in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo, en word uitgegee deur Queillerie.

Van Veen se eerste optrede is teen die middel van Mei in die Nico Operahuis in Kaapstad en hy sluit sy toer af in die laaste week van Mei in die Operahuis in Port Elizabeth.

In Gauteng is die kranige blondekop-sanger met sy pikante swart hoed en potblou oë vier keer op die planke twee aande in die Roodepoortse Stadsteater en twee aande in die Opera van die Spoornet Staatsteater.

In Kaapstad sal die bekendstelling van sy boek in die Via Villa plaasvind en in die Jakarandastad in die Pretoria Buiteklub in Waterkloof.

Daar is nie 'n bekendstellingsgeleentheid vir die boek, getitel Herman van Veen: Verhale, in Port Elizabeth nie, maar ná sy konsert in dié stad sal Van Veen 'n meesterklas in die kabaretkuns by die universiteit aanbied.

Die 55-jarige Van Veen is een van die voorste Europese kabaretsterre. Sy Suid-Afrikaanse besoek volg op 'n uitgebreide Europese konsertreis wat onder meer Duitsland, België en Frankryk insluit.






terug naar de index