– Kobus Burger schreef 19 april 2001 in Beeld (ZA)

Herman stel nuwe CD in SA bekend


Kabaretster extraordinaire ... Herman van Veen in Junie weer in Suid-Afrika.



Die reisende storieverteller en Nederlandse kabaretmeester Herman van Veen toer in Junie in Suid-Afrika.
Dié besoek sy vierde volg nadat hy sy konserttoer in Mei verlede jaar op kort kennisgewing gekanselleer het weens die dood van sy ma en die daaropvolgende hartaanval van sy pa.

Die ``vader van hedendaagse troebadoere'' sal sy jongste album, Je zoenen zijn zoeter, met sigeuner-jazz wat hy saam met die Rosenberg-trio opgeneem het, terselfdertyd hier bekend stel. Twee van die konserte sal ook ten bate van Suid-Afrikaanse ontwikkelingsprojekte, die Herman van Veen Stigting se Great Grapes-projek en die Elandsdoorn-trust, aangebied word.

Die 56-jarige Van Veen reis al vir drie dekades van verhoog tot verhoog met sy musikale vertellings.

``Ek is in die eerste instansie 'n reisiger en wil net 'n subjektiewe reaksie gee op dit wat ek sien.

``Dit is my reg.

``Ek sien of skryf wat ek ervaar,'' het hy tydens sy 1997-besoek aan Plus gesê.

``Ek speel met verwondering. Ek het nie die reg om te oordeel of veroordeel nie.''

Hy meen ook die oordra van die verhaal deur musiek is belangriker as die musiek of die taal.

Van Veen se lirieke en verhale is al in Afrikaans vertaal deur die digter en omroeper Daniel Hugo. 'n CD, 'n Teer gevoel, met die Afrikaanse weergawes van bekende Van Veen-werk het ook al die lig gesien.

Buiten musiek en lirieke, is hy ook 'n kinderboekskrywer, draaiboekskrywer, regisseur, rolprentmaker en akteur.

Sy Suid-Afrikaanse toer volg op optredes in Nederland, Duitsland, België en Frankryk.

Só lyk sy toerprogram:

Maandag en Dinsdag, 18 en 19 Junie: KunsteKaap-operahuis, Kaapstad, om 20:00;
Saterdag en Sondag, 23 en 24 Junie: Roodepoort-Stadsteater om 20:00 (Sa.) en 15:30 (So.);
Dinsdag en Woensdag, 26 en 27 Junie: Staatsteater, Pretoria, om 20:00.