Herman Wasserman
die Burger
Herman van Veen vind sy nuwe tuiste in die vreemde van SA 17 mei 1997

SUID-AFRIKA is nou deel van sy realiteit, sê Herman van Veen.

Daarom reageer hy tans in sy vertonings, in Suid-Afrika en in die res van die wêreld, op dit wat hy hier gesien het: ``die verbysterende skoonheid van die geografie, die wydsheid en die grootsheid wat amper onbeskryfbaar is en wat my lewe in 'n oogwink verander het'', maar ook, ``die littekens wat apartheid agtergelaat het, die onbeskryflike armoede in die townships wat menslik onwaardig is''.

Daarom sal sy konserte vanjaar hier heel anders daar uitsien as sy optrede by verlede jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Behalwe dat vanjaar se vertonings in teaters is, 'n ruimte waarin hy meer tuis voel as die konsertverhoog (soos verlede jaar op Oudtshoorn), sal sy optredes nou ook verwysings bevat na Suid-Afrika, die land waar hy glo nou meer tuis voel as verlede jaar.

``Dit was 'n verbysterende ervaring om die skoonheid van die land en die hardheid van die realiteit so dig bymekaar te sien. Dit was 'n enorme kultuurskok. Maar dis bewonderenswaardig wat hier gebeur het. Ek het altyd geweier om na Suid-Afrika te kom weens die politiek, maar die verkiesing het 'n geweldige verskil gemaak,'' sê die man wat jare gelede op 'n liedjie vir Amnestie Internasionaal gesing het van ``de apartheidswaan''.

``Verlede jaar se optrede was so 'n soort visitekaartjie, om te sê wie ek is. Nou het ek 'n paar dinge geskryf oor my ervaringe hier. Soos 'n stuk oor hoe bedreigend, hoe werklik le wensgevaarlik nasionalisme is.

``Maar dis moeilik om as Nederlander vorm te gee aan wat ek hier ervaar het. Ek is in die eerste plek 'n clown, dus wil ek ernstige sake so verpak dat mense dit verstaan.''

Hy is klaarblyklik versigtig om dit te laat klink asof hy as buitestander 'n volledige insig in Suid-Afrika het, maar voel tog nou meer tuis hier: ``Verlede jaar was alles vir my vreemd, maar ek weet nou meer en is nou beter voorbereid.''

Hy het pas 'n CD vrygestel, 'n Teer Gevoel, waarop hy Afrikaanse vertalings (deur Daniel Hugo) van sy liedere sing. ``Ek is verlede jaar die eerste keer met Afrikaans gekonfronteer, en het dit onbekend/ bekend, maar erg leuk gevind. Ek het vriende hier gekry wat in my werk belangstel, en wat my gevra het hoekom ek nie in Afrikaans sing nie.

``Ek vind dit mooi om in ander tale te sing, dis 'n soort reis. Ek begryp só meer van die land, asof ek in die taal daarheen gereis het.''

Maar is om in Afrikaans te sing nie nou, na al die jare waarin hy geweier het om Suid-Afrika te besoek, 'n politieke stelling nie?

``Afrikaans, soos dit was, is besmet. Dit was die taal van die besetter. Maar dit het ook die taal geword van die onderdrukte, en ek vind dit 'n mooi taal waarmee ek met onderdruktes kan kommunikeer,'' sê hy.

Hierdie begeerte om mense te leer ken vir wie hulle is, hoor mens ook as mens hom vra wat die belangrikste temas in sy werk is:

``Ek dink die beste woord om dit te beskryf is respek. Ek glo in respek vir verskille, dit wat jy nie kan verstaan nie.

``As kind probeer mens dikwels sneeu bewaar, al weet jy dat jy nie kan nie. Dis wat ek met my musiek ook probeer doen. Die Franse noem my die teer anargis ek glo nie in geweld nie, maar dit bestaan.

``Soveel mense het angs, en kan nie sê wat hulle dink nie. Met kuns kan jy iets daaraan doen. Jy kan dit nie oopbreek nie, maar jy kan mense probeer hoop gee.

``Soos ek in Suid-Afrika vir mense wil probeer sê dat dit wat hier gebeur het, fenomenaal is.''

Dit herinner aan een van sy liedjies, wat hy nou ook in Afrikaans sing, hierdie deernis van hom:

Ek koester steeds 'n teer gevoel

vir hulle wat die lewe troef

en as die waarheid drome tart

klink hulle lag 'n bietjie droef...