SUZETTE TRUTER schreef 17 mei 2000 in SARIE (ZA)

EEN VAN ONS



Die Nederlander Herman van Veen dra baie hoede: kabaretkunstenaar, komponis, skrywer, regisseur, akteur … maar wat hy die heel graagste doen, is síng.

Gunstelinge
Kos: Salm, baie dun gesny, met uitjies en suurlemoenkonfyt, botter en roosterbrood, en vrugtige wit wyn.

Drank:
Jonge jenever.

Akteur:
Al Pacino.

Aktrise:
Claire Forlani in Meet Mr Black.

Rolprent:
The Great Dictator met Charlie Chaplin.

Musiek:
Johann Sebastian Bach. Die musiek waarna ek luister, hang af van my bui.

Boek:
Kunnen wij de Aarde Beheren? (uitgewer: Kok Agora, Kampen), deur prof. Jan Tinbergen.

Skrywer:
Marguerite Yourcenar, skuilnaam van die Franse skryfster Marguerite de Crayencour (sy's in België gebore).

Jou beste eienskap?
Ek is rustig.

Slegste eienskap:
Ek wil te veel doen.

Wat maak jou kwaad?
Apatie.

Wie laat jou lag?
Die Engelse komediant Tommy Cooper.

Waar hou jy graag vakansie?
Frankryk.

Sport:
Ek speel graag gholf. Ek is mal oor sokker.



Herman van Veen wou as kind Indiaan of dokter word.
Maar toe kies sy lewe 'n ander koers die dag toe meester Braam Mok vir hom 'n viool gee omdat hy altyd gesit en fluit het.
En só hy het geword wat hy moes: kabaretkunstenaar, komponis, sanger, komediant, akteur, rolprentregisseur, musikant. (Hoewel hy soms kleintyd skaam was om met sy swart vioolkis deur die strate te loop, en sag gespeel het sodat sy vriendjies dit nie moet hoor nie -- viool was immers 'n kattegejammer, soos gillende kombuismeisies.)
Maar nou nog, daagliks, is hy net meer en meer oortuig dat die weg wat hy loop die regte een is, sê hy. Dié gewilde Nederlandse kunstenaar se pad het hom ook al dikwels na Suid-Afrika gelei. Vandeesmaand is hy weer op 'n landwye konsertreis hier. Terselfdertyd word 'n bundel van sy kortverhale, Herman van Veen: Verhale (in Afrikaans vertaal deur die digter Daniel Hugo), deur Queillerie-Uitgewers uitgereik. Hy is ook skrywer van kinderboeke en draaiboeke vir TV-reekse. 'n Deel van die inkomste uit hierdie werk gaan aan die Columbine Stigting, waarvan hy 'n mede-stigterslid is. Die stigting inisieer en finansier projekte in ontwikkelingslande en in Europa. Hy was ook in 1997 mede-stigter van die Herman van Veen Stigting in Benoni aan die Oos-Rand, om kinders te help om hul kreatiewe talente te ontwikkel en uit te leef.
Herman het in sy meer as dertig jaar as kunstenaar baie pryse gekry wat hom na aan die hart lê, onder meer die Louis Davidsring (die hoogste eerbewys aan 'n kabaretkunstenaar in Nederland) wat aan hom oorhandig is deur wyle Wim Kan, 'n groot gees in Nederlandse kabaret.
Hy is in 1993 deur koningin Beatrix van die Nederlande tot Ridder in die Orde van Oranje Nassau geslaan. In 1999 is hy deur die Bondspresident van Duitsland vereer met 'n Verdienstekruis vir sy besondere bydrae tot die bevordering van Nederlands-Duitse verhoudinge. Daar was ook talle ander internasionale pryse wat hy en sy medewerkers deur die jare ingepalm het: die Goldene Kamera in Duitsland, 'n Silwer Beer van die Berlynse rolprentfees en diverse pryse op The International Film and Television Festival in New York.
Maar vra jy hom wanneer hy werklik die dag sal voel of hy sukses behaal het, sê hy: "Sukses is as 'n vrou my op straat herken, glimlag en teen 'n lamppaal vasloop."

Is jou karakter ná al die jare steeds opwindend?
Ek wil nie enige ander werk hê nie. Miskien raak 'n mens soms 'n bietjie vuisvoos, maar dan kom daar weer 'n nuwe storielyn, 'n nuwe uitdaging. Of ek gaan speel gholf en herlaai my battery. Ek het iewers gehoor jy moet elke dan en wan iets doen wat jou bang maak. Nee, ek kan nie sê wat ek doen nie. Dis te persoonlik. En gevaarlik…

Wanneer het jy besluit om drama te swot?
Ek het nie. Ek het per toeval in die akteurswêreld beland; dit was lekker, en toe bly ek. Ek ken Franz Marx al van 1979 toe ek gekies is vir die rol van Gerrit de Winter in die TV-reeks Skooldae. Hy is 'n baie goeie leermeester. Ek was agtien jaar oud.
Ek is met 'n goue lepel in my mond gebore, en ek begin nóú eers dankbaar daarvoor raak. In 'n stadium het ek dit nie waardeer nie, want ek het ander kwellings gehad. Ek het myself bejammer. Ek het deur 'n paar slegte kurwes gegaan - oor persoonlike kwellinge.
Ek het my te veel bekommer oor ander mense, oor hul geluk. Ek het nou 'n stadium bereik waarin ek weer na myself kyk - op 'n "gesond'' selfsugtige manier.

Jou loopbaan is gevarieer, van komponis tot komediant. Hoe sal jy die graagste onthou wil word?
Herman van Veen, een van ons.

Jou optredes is gewild in Suid-Afrika. Vind jy die humor hier baie anders as in jou eie land?
Nee, baie word bepaal deur die omgewing waarin jy is. Humor laat ons erken waarvoor ons skaam is of waaroor ons verleë voel. Dis bevrydend -- die lag van herkenning.

Jy het uiteenlopende talente. Na wie aard jy?
Die vertelkuns het ek by my pa geërf, die versorgende aard van my ma, die kunssinnigheid van my oupa Hermannus, wat die Nederlandse kampioen-biljartspeler was. Hy het destyds ook saam met sy twee broers gesing as deel van die voorprogram in die bioskoop.
My pa is Jan Frederik Albertus van Veen. Hy was 'n tipograaf by die dagblad Het Parool in Utrecht. Hy is still going strong, net teen 'n baie meer langsame tempo. Hy is 'n sosialis van die ou garde, wat die wêreld as 'n vreedsame een beskou het, en toe met 'n wêreldoorlog gekonfronteer is. Hy is baie opreg, beginselvas.
My ma is Alberdina Verhoef. Sy was 'n huisvrou en wêreldkampioen-moeder. Sy was 'n boom, kersregop, met beide voete stewig op die grond, altyd met 'n voorskoot om haar lyf. As iemand hulp nodig gehad het, was sy daar met 'n drukkie en 'n grappie. Sy staan nou aan die einde van haar reis.
Ek het in Utrecht in 'n smal, hoë huisie sonder verwarming grootgeword saam met my sussies, Hanneke en Mary. Hanneke is vandag 'n doktersassistent. Mary is 'n matrone van die Columbine Huis (deel van sy stigting) waar kinders met terminale siektes, oorlogswesies, vlugtelinge of kinders wat eenvoudig honger of arm is, kan kom aanklop vir warmte, aandag, kreatiwiteit, troos en baie plesier.

Jy is betrokke by heelparty stigtings (ook hier in Suid-Afrika) om kinders te help. Wat motiveer jou om dit te doen?
Ek het my lewe min of meer te danke aan Kanadese vliegtuie wat kosvoorrade na ons afgegooi het aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ek is toe pas gebore, en daar was niks te ete nie. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ook toe my skoolhoof, Braam Mok, as kind aan die Montessori Laerskool 'n viool aan my gegee het, het dit my hele bestaan verander. Ek besef nou eers hoe belangrik hierdie gebaar vir my was. As ek mense ook op hierdie manier kan help, is dit wonderlik. Maar as die hulp lei tot 'n nuwe afhanklikheid, beskou ek dit nie as hulp nie, maar net as 'n ander vorm van kolonisasie. As hulp jou bevry, jou onafhanklik maak, is dit myns insiens goed.

Watter oomblik in jou kinderjare staan die helderste uit?
Die geur van soutvleis. Dit was in die blikkies wat die Kanadese in ons tuin laat val het net ná die oorlog. Nou nog, as ek soutvleis ruik, water my mond.

Spesiale oomblikke in jou loopbaan?
My debuut in Carnegie Hall. Ek was nog nooit so senuweeagtig nie. My knieë het byna uit my broek uit gebewe. Dit was my redding. Die gehoor het niks anders verwag nie.

Kort voor die val van die muur in Oos-Berlyn het ek ook 'n konsert daar gehou. Daar was duisende mense in en buite die saal. Onvergeetlik.

En al die eerste kere … op Broadway, New York, in Carré, die beroemdste teater in Amsterdam, in Olympia, Parys (dié plek waar kabaretkunstenaars wil optree). Jy komponeer ook ballet. Hoe het die belangstelling ontwikkel?
As kind het ek saam met ander na 'n spesiale kinder-uitvoering van die Scapino-ballet gegaan. Eintlik net omdat ek langs Dineke Lagendijk wou sit, wat baie soos Sneeuwitjie gelyk het. Maar toe die ligte verdoof word en 'n man met 'n swart hoed en 'n wit gesig in die kollig op die verhoog opkom, het ek Dineke op die plek vergeet. Ek het net oë gehad vir die danser.

Jy het al soveel bereik. Het jy nog drome?
Ek wil altyd minder beter doen.??? Ek wil die beste uitvoering gee. Ek wil meer tyd in die tuin deurbring, ek wil meer tyd hê vir my familie en ek wil 102 jaar oud word.

Wat inspireer jou?
Om te wonder oor die lewe. Die vroeë oggend. Mozart, Bach, Brel, 'n tros druiwe, die gefluit van 'n voël, die woorde van die dronk digter, die gekwispel van 'n hond.

Die grootste vreugdes in my lewe is my ouers, my kinders, my geliefde, dat ek mag sing en stories vertel … en gesond wees. Die lewe is 'n wonderlike geskenk.

Jy sing jy het 'n teer gevoel vir Afrika. (Op sy 1997-CD 'n Teer gevoel.) Waarom dié gevoel?
Die aanskoue van die natuur in Suid-Afrika was vir my byna 'n Bybelse ervaring. So moes dit destyds gelyk het, en so moes dit eintlik gebly het. Ons mense is net gaste in die hof van Eden. Diere en mense moet in wedersyde respek met mekaar saamleef. Ek weet dis 'n Utopiese siening. In die wildparke in Suid-Afrika het ek soms die vreemde gevoel gehad dat ek aan die ander kant van die draad staan, dat ek na gekyk word.

Hoekom sing jy?
Ek kan nie daarsonder nie. Ek het ook nie 'n spesifieke doel daarmee nie soos om mense se denke te verander nie, my doel is net om te sing, sing, sing …

Kunstenaars wat op die verhoog ekstrovers is, is dikwels introverte van die verhoog af. Hoe is jy?
Nie anders as die man tuis nie. Ek is 'n rustige man wat van plan is om eintlik niks te doen nie en vervolgens te veel doen. Ek is gefassineer deur die natuur. Ek is dikwels ongeduldig binne bepaalde raamwerke of sosiale opsette -- vir my kan dinge nie vinnig genoeg gebeur nie. Ek doen alles honderd persent -- jy kan immers nie half swanger wees nie. Ek is 'n realistiese pessimis. Ek hou daarvan om gesellig saam met vriende te verkeer, om lekker koffie met warm melk te drink.

As jy 'n dag vry het, wat doen jy?
B> Ek werk in die tuin, stap, versorg die diere, skryf en praat te veel. Ek sê dieselfde ding ongeveer tien keer op 'n ander manier. My vrou se naam is Gaëtane; sy kom uit Wallonië, België. Daar is vier kinders: Babette, Valentijn, Merlijn, Anne-Marije. Ons het vier honde, twee perde, veertien skape, 'n paar koeie en ontelbare konyne.

Wat het 'n groot invloed op jou loopbaan gehad?
Ek het voortdurend geveg vir die behoud van my identiteit. Die gemeenskap voel gemakliker as hulle jou kan kategoriseer, as hulle jou in 'n boks kan druk en 'n etiket omhang. As hulle nie kan nie, is jy vir hulle 'n probleem. Maar ek kan onmoontlik vir hulle helderheid gee. Wat kan ek sê oor die vorm van die boom as ek geen benul het van die bos nie?

Was die beginjare van jou loopbaan moeilik?

Nee. Ons het gespeel. Ons het plesier gehad. Ons is gevra om te speel. Ons ervaar steeds meer plesier. En so gaan dit eintlik nou nog



Suzette Truter





terug naar de index