Kobus Burger scheef 16 mei 1997 in Beeld (ZA)

"Teer anargis" Van Veen in SA



Die seuntjie staan op 'n kissie. Hy loer oor die tuinmuur en vertel vir sy maatjies hoe lyk die appelboom in die ander tuin.
Dit is die beeld wat die Nederlandse kabaretkunstenaar, skrywer en rolprentmaker Herman van Veen gebruik om homself te beskryf. Van Veen is in Suid-Afrika op 'n konsertreis, terwyl sy eerste CD in Afrikaans, 'n Teer gevoel, pas uitgereik is.
Van Veen, wat homself nie as 'n ``klassieke mens'' beskou nie, vind dit moeilik om sy musiek te kategoriseer. Hy noem dit ``middel-Europees'' of ``troebadoeragtig''.
``Ek is in die eerste instansie 'n reisiger en wil net 'n subjektiewe reaksie gee op dit wat ek self sien. Dit is my reg. Ek sien of skryf wat ek ervaar.
``Mense verstaan jou mis en maak van jou 'n ghoeroe of politikus. ``Ek speel met verwondering. Ek het nie die reg om te oordeel of veroordeel nie.''
Die 52-jarige ``teer anargis``, soos die Franse hom noem, het die digter Daniel Hugo gevra om sy liedjies in Afrikaans te vertaal. Die Suid-Afrikaanse sangeres Christien Coetzee het hand bygesit en sing saam met Van Veen op 'n Teer gevoel.
Coetzee het Van Veen ontmoet tydens 'n konsert in Switserland, waar sy vir 'n teaterorganisasie aan die Nederlander se produksie gewerk het.

Van Veen put die materiaal vir sy musiek en vertonings uit die werklikheid rondom hom. Gevolglik verskil elke konsert van stad tot stad.

``Ek dink die poging in die verwoording van 'n reaksie is in 'n sekere sin waarom dit vir my gaan. Om iets te sien of te lees of te begryp en dan 'n vertaling daarvan te gee.


Hy meen hy is gelukkig dat hy mense in sy lewe ontmoet het wat 'n sekere belangstelling in hom aangewakker het. Hy het nie 'n spesiale talent nie.
``Ek het my viool gekry by 'n Joodse man wat in die oorlog in 'n konsentrasiekamp was en nie viool kon speel nie.

``Dit was heeltemal die verkeerde instrument vir daardie tyd.'' Volgens Van Veen het mense in daardie tyd rock 'n roll geluister. ``Die man het gedink die viool het by my gepas.
``Ek het toe begin viool speel.''

Van Veen het later viool en musiekonderwys aan die Konservatorium van Utrecht gestudeer. Hy het al meer as sewentig CD's in Nederlands, Duits, Frans en Engels opgeneem.
Hy komponeer ook rolprent- en balletmusiek en is al tydens die Berlynse rolprentfees met 'n Silwer Beer bekroon.
Nou verfilm hy Nachtvlinder, 'n rolprent wat hy self geskryf het. Hy is ook die regisseur. Die temaliedjie Butterfly is op 'n Teer gevoel.

``Dis 'n fliek oor dag en nag, lewe en dood. In wese handel dit oor 'n man wat siele vang. Hy is 'n Mefisto- agtige figuur, 'n man van kennis, wat die wese van die mens wil begryp en vang.''
Intussen vang Van Veen op sy eiesoortige manier die wese van die menslike kondisie vas. Al is dit om eers jare later iets te skryf oor die stoere Suid-Afrikaners in swart klere wat hy in 'n koffiewinkel op 'n plattelandse dorpie gesien het.

Van Veen tree vanaand en môreaand in die Opera van die Staatsteater op. Aanstaande Saterdag is hy in die Witsteater, Johannesburg.





terug naar de index