Beeld (SA)
PAUL BOEKKOOI

Van Veen laat jou steeds nadink

27 Januarie 2014

Herman van Veen die afgelope naweek in Johannesburg op die verhoog.


Sy vlymskerp gees wyk nie; die nostalgie neem toe; sy poësie laat beelde steeds dartel; en sy lewensliedjies laat ’n hunkering in die hart.
Herman van Veen – ouer, wyser, meer ironies en soms selfs ronduit sinies – is steeds in staat om gehore uit hul selftevrede gemaksone te ruk.
Die jare begin tel. Iets soos ’n hoogs aangevuurde opstandeling op soek na geregtigheid is nouliks meer by hom te vinde. En dit is goed so.

Van Veen vertel steeds verhale – outobiografies en outo-verbeeldingryk – wat mens meermale laat krul van die lag, maar selfs nog meer oor die lewe laat nadink.
Die skets om Rooikappie en veral die beskrywing van die wolf se binnegoed is so tipies van die gevatte Van Veen.
So ook die wonderlike mededelings om kinderfantasieë en -openheid.
Dit laat jou daarna verlang om ook eendag kleinkinders te ervaar.

Van hulle sal natuurlik skrik en nagmerries kry gegewe dít wat hy uitbeeld: benewens die wolf en monsteragtige kraaie ’n Dracula-agtige man wat agter ’n klavier gaan sit en improviseer en die musiek van ’n Boulez na dié van ’n amateur laat klink?.?.?.

Mimiek, stemgebruik, sy sang wat nog net so resonant, maar ietwat minder sekuur is as vroeër en sy liggaam wat verbasend lenig is vir sy 68 somers is kollektiewe vaardighede wat van Van Veen se optredes iets kosbaars bly maak – sonder dat hy te platvloers raak, al noem hy sleuteldinge by die naam.
By ons aankoms by Emperors Palace ontdek ons dat daar ’n Via Appia op die terrein aangedui word.
Toe Van Veen en sy kollegas ’n Stabat Mater (in falset) en later ’n Kyrie eleison sing, het dit dus skaars verbaas dat hy teen die einde van die konsert die omgewing waarin hulle optree as “uiters surrealisties” beskryf het.

Wat op dié verhoog gebeur het, was vermaaklik en stimulerend.
Sy puik uitgewerkte nabootsing van ’n panfluitspeler was een van vele suiwer “instrumentale” oomblikke, terwyl sy spel op die viool steeds so passieryk as altyd is.

Edith Leerkes op kitaar besit ewe veel temperament as fynbesnaarde kenmerke, of sy nou sing of die musikale leiding neem.