die Burger
Anna-Retha Bouwer

Herman van Veen in SA om met 'nuwe oog' te kyk

25 Januarie 2014

Saterdag

Die Nederlandse kabaretster Herman van Veen is binnekort weer in Suid-Afrika. Hy het per e-pos met Anna-Retha Bouwer gesels.


Jy het Suid-Afrika al heelwat besoek. Wat maak jy dié keer hier?

Ek kom hierheen om 'n bietjie te skryf. In Nederland is ek altyd besig met verskillende goed. Dit is onvermydelik dat die boerdery en logistieke dinge my altyd so besig hou. In Suid-Afrika is alles so volstrek anders. Hier is ek ver weg van die alledaagse goed en kan ek met 'n nuwe oog na dinge kyk. Ek probeer om Suid-Afrika so elke drie of vier jaar te besoek.


Waaraan werk jy op die oomblik?

Ek kom werk aan 'n nuwe teaterstuk. Ek beoog iets oor hoe 'n mens anders na goed luister afhangende van jou perspektief. Die Nederlandse volkslied, "Wilhelmus", is dalk nie so besonders in terme van lirieke of melodie nie, maar wanneer my pa daardie lied gehoor het, het hy trane in sy oë gekry. Dit het hom aan die oorlog laat dink. Nou laat die lied my ook trane in my oë kry, want dit laat my aan my pa dink. Dit is daardie verskynsel wat ek wil ondersoek.


Jy is 68 jaar oud. Glo jy in aftree?

Nee, as ek op pensioen moet gaan, sal ek doodgaan. En ek wil nooit doodgaan nie.


Wat inspireer jou?

Ek is nuuskierig. Ek is altyd op soek na antwoorde op vrae. Ek wil die wêreld en die lewe begryp. Die een vraag lei na die volgende, en die fassinasie wat daarmee saamkom, is onvermydelik. Ek glo die essensie van die lewe is fassinasie.

Jy is bekend om die strokieskarakter Alfred J. Kwak. Dié eendjie het gelei tot 'n TV-reeks wat al oor die wêreld heen uitgesaai is. Waar het jy aan die idee gekom om iets oor 'n eend te skryf?


Ek het Kwak geskep as 'n soort boetedoening. Ek het een aand ná 'n bietjie te veel te drinke 'n eend naby ons huis doodgery. Ek het baie sleg gevoel en die eend probeer begrawe, maar toe net 'n blaar bo-oor hom gesit. Die volgende oggend het ek 'n eend met haar kleintjies buite ons huis sien stap. My eerste gedagte was: "O gits, ek het die pa doodgery!" Kwak was die skadevergoeding, want die eend wat ek doodgery het, is nou onsterflik.


Van Veen tree op 31 Januarie en 1 Februarie in die woud-amfiteater Paul Cluver buite Grabouw op. Bespreek by Computicket.