......schreef 10 juli 2001 in Die Volksblad (ZA)

Herman van Veen kry kookwater-hulp



DIE eerste twee akkoorde laat jou dadelik die styl van kitaarmeester Django Reinhardt oproep en met die vioolspel daarby wil jy al dink aan Stephane Grappelli wat saam met dié jazz-virtuoos menige plesierige oomblikke vir ons agtergelaat het.

Maar dit is Herman van Veen se nuutste CD, Je zoenen zijn zoeter, wat speel en die Nederlandse sangster met die kenmerkende styl het dié keer die trio Rosenberg-broers se hulp gekry wat kookwater musiek in die sigeunerstyl doen.

Van Veen het die CD spesiaal hier uitgereik om saam te val met sy afgelope konserttoer in Suid-Afrika. En blaai jy deur die bygaande boekie, is dit duidelik dat dit spesiaal vir Suid-Afrika uitgereik is: die lirieke is in Nederlands, die tegniese krediete in Engels, maar die biografieë in Afrikaans!

En dit is hier waar jy lees dat die kitaarspelende broers in die Django Reinhardt-fees opgetree het. Feesgangers moes in hul noppies gewees het, want so na aan Reinhardt kan jy kwalik kry. Nie dat hulle by die groot meester afgekyk het nie, dit is net dat hulle ewe goed weet hoe om op sigeunerwyse te swing.

Maar moenie dink hul spel oorheers Van Veen nie. Die kern van die liedjies - en Van Veen is 'n kunstenaar vir wie die musiek net so belangrik is as die lirieke - triomfeer ongeskonde. Rustig, onopdringerig, maar geensins agtergrondmusiek nie.

Die CD spring sommer weg met 'n heupswaaiende, voettikkende swing. Twee snitte verder skok-ontstel die "wraak" van 'n oorlede meisietjie wat haar gesteelde teddiebeer gaan opeis, ondanks die rustige onskuld wat die liedjie voorhou. Die titellied pols aansteeklik met sy herhalende melodiepatroon en reïterasie. 'n Aandoenlike walsmotief is opgesluit in die weemoed van die oorlogliedjie Wiegeliedjie.

En as jy wil weet hoe uiteenlopend Van Veen musiek kan vertolk, luister na die twee snitte Een beter land en Ze kan niet anders wat langs mekaar lê - die een dramaties met 'n pragtige toonverandering as hoop ter sprake kom, en die ander 'n dartelende, huppelende liedjie oor iemand wat net eenvoudig altyd moet sing. Daar is natuurlik ook die pleidooi tot die Meisie met Anorexia.

En as afwisseling is tussenin instrumentale nommers met die Rosenbergs bygestaan deur die viool van Van Veen - of is dit Jann, want dit is my enigste probleem met die boekie: dat nie behoorlik gesê word wie op watter snit optree nie.

Van Veen se eie kitaarspeler Edith Leerkes is ook daar en daar is 'n klavier, maar nêrens word gesê wie dit speel nie.

Anders as baie opnames van ligte musiek is hierdie een wat met elke luister net beter word en meer openbaar.

Van Veen het weer eens 'n kleinnood geskep wat bewonderaars seker al klaar aangeskaf het. Moenie agterbly nie.