– Fanie Olivier schreef 10 juli 200o in Beeld (ZA)

As daar dan vertaal moet word, waarom Herman van Veen?



Verhale deur Herman van Veen. Queillerie (sagteband, 84 pp.), R69,95. ISBN 0 7958 0011 8

Verlede jaar het ek in 'n resensie oor Die aanslag, 'n Afrikaanse uitgawe van Harry Mulisch se oorlogsroman, 'n opmerking gemaak oor die rede vir en die nut van vertalings in Afrikaans uit Nederlands.

(Dit sou eweneens ook kon wees oor vertalings uit Afrikaans in Nederlands, waar Elisabeth Eybers in eie reg en Gerrit Komrij al bloemlesende aanvoer dat dit nie nodig hoef te wees nie.)

Maar as daar dan vertaal moet word, wonder ek waarom Daniel Hugo (wat, laat ek dit sonder aarseling sê, voortreflik hier met Van Veen omgaan (hoop mens)) besluit om hierdie skrywer en hierdie bundel in die hand te neem. Verhale, heet dit eenvoudig.

Want 'n mens kan beswaarlik vir Herman van Veen ernstig as skrywer vooropstel bo 'n norring ander Nederlandse en Vlaamse skrywers wie se werk hier in Afrika ongekend bly. Watter maatstawwe speel dus hier 'n rol? Van Veen se faam as liedteksmaker en sanger, sy toelating tot die ridderorde, of die feit dat hy besoek aan Suid-Afrika bring?

Sal die Nederlandse Literair Produktie- en Vertalingenfonds ook finansiële steun gee vir ander skrywers se vertaling indien daar 'n saak uitgemaak kan word vir die noodsaaklikheid van vertalings uit Nederlands in Afrikaans?

Verhale bestaan uit sestien prosastukke en een gedig, ``Trog''. Hoewel ek kan insien hoe hierdie vers inskakel by sowel die tema van bevooroordeeldheid as die verkenning van die Suid-Afrikaanse werklikheid, vind ek dit onvanpas en buitendien onoorspronklik. Die aangehaalde gedig binne die gedig het 'n mens al in baie variasies raakgeloop, juis ook in die Amerikaanse konteks waaruit dit kom.

Ek kon nie uit die bundel aflei of hierdie versameling deur die vertaler gemaak is, en of dit reeds in hierdie gedaante en ordening in Nederlands verskyn het nie. Dit lyk my in ieder geval asof daar wel iets anders met die indeling van die verhale gemaak kon word.

Die verhale volg mekaar breedweg in vier onderskeibare bewegings, maar met plasings wat myns insiens nogal jammer is. Dit begin met drie stukke uit 'n kinder- en jeugwêreld in die Nederlandse stad Utrecht, elkeen met 'n stuk bekoring, maar almal met dieselfde gebrek aan noodsaaklikheid wat 'n ``verhaal'' moet kenmerk, hoe lank of hoe kort dit ook al mag wees.

Ek is van mening dat ook die aangrypende verhaal ``Mendelsohn'' wat teen die einde van die bundel verskyn, eintlik ook hier vroeg tuishoort. Nie alleen sou die inhoud van die verhaal aansluit by ``Erlkönig'' nie, maar dit sou ook 'n progressie in die verteller se eie lewe aandui en iets van die sirkelgang wat met die einde van die openingsverhaal gesuggereer word.

'n Besef van die geskiedenis (en die relativerende rol van so 'n besef) deursuur baie van die verhale en lig hulle ook daardeur uit die sfeer van die triviale. Nêrens word dit duideliker nie as uit die kort slotverhaal ``Kaap die Goeie Hoop'' waar die verteller by die uitkykpunt by Kaappunt staan en 'n hele vyf, ses eeue se verloop voor sy geestesoog sien verbyspoel.

Twee verhale rondom God ('n brief aan, en 'n besoek van) kan as 'n tweede groepering saamgelees word. Hierna is daar vier verhale wat gebeurtenisse tydens die verteller se loopbaan as sanger aandui. Die aanprysing wat uit die aantekeninge rondom Van Veen agter in die boek verskyn, word deur hierdie self-relativerende voorstellings in perspektief geplaas. Die aangrypende ``Die muur'' is nog 'n duidelike voorbeeld van die skrywer se historiese besef waaroor hierbo gepraat is.

Ook hier vind ek die ordening van die verhale vreemd, want ``Wuppertal'' wat later volg, hoort eintlik hier en sou 'n logiese verbinding kon gebring het tussen ``Die muur'' en ``Berghof'' (tematies) of ``Braai'' met sy droomfaset en die belaglikheid van 'n vleisbraai in Bloemfontein op die dak van 'n gebou met elf verdiepings.

Die surreële van hierdie gegewe word dan weer geëggo deur ``Noag'', ``die mees gevorderde wildtuin in Afrika'' waarin lekker draakgesteek word met die luukse wildplaassafari's van ons tyd.

Die Suid-Afrikaanse verbintenis spreek uit hierdie laaste groepie verhale, maar sonder dat die skrywer sy historiese greep en die humoristiese relativering van vroeër en elders laat vaar.

Deur ``Berghof'' word daar vanuit Bloemfontein bande deurgetrek na Hitler (en die uitwerking wat sy Duitsland op die Nederland van die verteller se kinderjare gehad het).

Al skrywende moet ek ontdek dat daar tog meer plesier in die versameling steek as wat ek aanvanklik toegegee het. Of hierdie soort plesier egter wye aanklank sou vind (ook by die Herman van Veen-aanhangers), is te betwyfel.

Ten besluite behou ek nog steeds my voorbehoude en bly die vrae nog wag op antwoorde.



olivierf@mweb.co.za





terug naar de index