Marguerite Robinson schreef 9 april 1996 in Beeld (SA)
Dié Nederlander was in een woord Veenomenaal!
DIE Nederlandse kabaretkunstenaar Herman van Veen het sy voet
uiteindelik aan wal gesit hier aan die suidpunt van Afrika en
getroue albumaanhangers kon die man in lewende lywe beleef. En
watter belewenis was dit nie. Sonder enige vrees vir teenspraak kan
'n mens sê so iets het ons nog nie hier te lande gesien nie.
As Van Veen Toveren sing, kan jy net sowel die woorde 'n bietjie
omdop en van toepassing maak op hierdie man, want hy is 'n
towerkunstenaar van die verhoog. Hy speel met illusies, hy skep
beelde vinniger as wat jy jou vingers kan klap. Of jou hoed kan
omruil.
Die een oomblik is hy 'n nar, dan 'n minnesanger, of iemand wat
protes aanteken teen die onregte van die wêreld, of 'n klankgoëlaar
wat note en klanke op sy tong laat dans soos 'n druppel water in
warm vet, of dalk die fluit(viool)speler van Hamelen wat die kinders
sal verlei met sy klanke, miskien 'n dirigent wat 'n ongeoefende
orkes na sy pype (of stokkie) kan laat dans, eintlik 'n
tennisspeler met 'n goed geoefende gekruide tong, en dan weer die
performer wat dinge op sy manier doen. En op watter uitsonderlike
manier was dit nie.
Van Veen is al vyftig verby, maar daar is niks fout met die kuite,
met die stewige agterstewe, die energie en daai ongelooflike stem
nie. En 'n mens kan nie help om te sug nie, meer as betyds, ja, maar
dié is nie 'n kunstenaar wat jy eenmalig wil sien nie. Jy wil
konsert op nuwe konsert sy talent meemaak.
Jy wil hê hy moet weer aan jou hart raak, weer jou lagspiere kielie
en soos 'n ware kunstenaar die teenstrydighede van die samelewing
oopkrap. Hy moet sing oor hierdie ou lewe en die liefde en die
towerkrag dat 'n mens waarlik kan glo dat dit moontlik is dat almal
van mekaar hou.
Dié wat Van Veen se musiek ken, was beslis nie teleurgesteld nie
daar was onder meer Signalen, Suzanne, Liefde van later, Marieke en
'n keurspel met Toveren, Opzij, Zo vrolijk en Hilversum III, en die
prettige en speelse eendliedjie Alfred Judocus Kwak. (Van dié
liedjies was 'n toegif.)
Maar daar was veel meer byvoorbeeld Grand Hotel Deutschland,
waarin hy besin oor die skrif aan die muur, Wiegelied onse eie
Lamtietie Damtietie op Afrikaans, Sarah (van sy splinternuwe CD) oor
die Joodse, anderste meisie wat nie sê sy is gek nie, maar sy sê ook
nie sy is normaal nie, en 'n paar ongelooflike duette saam met Nard
Reijnders met onderskeidelik viool en klarinet en ook in sang as
tenoor en bas.
Buiten vir Van Veen en die multi-instrumentalis Reijnders was Erik
van der Wurff, saam met wie hy van die begin af saamwerk, op die
verhoog agter die klawers. Hierdie musikante is werklik verstom mend
'n orkes in die kleine. En die bydrae van die tegniese personeel met
só 'n konsert kan ook nie geringgeskat word nie.
Boonop was dit 'n ongelooflike Klein Karoo-aand heerlik soel, byna
volmaan en blitse in die verte. Mevrou God (na aanleiding van 'n
skets) het vir die feesgangers geglimlag.
So mooi soos die aand was, sal 'n mens Van Veen liefs volgende keer
in die intimiteit van 'n teater wil sien ter wille van goeie
sigbaarheid en perfekte klank en sodat kleiner nuanses nie verlore
gaan nie.
In een woord? Veenomenaal!
Marguerite Robinson