Marguerite Robinson schreef 11 november 1995 in Beeld (ZA)
Herman van Veen na SA vir fees op Oudtshoorn
HERMAN VAN VEEN, een van Europa se voorste kabaretsterre, kom
aanstaande jaar eksklusief by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees
op Oudtshoorn optree.
Twee opelugkonserte word op 3 en 4 April aangebied. Weens 'n baie
besige program kon geen ander konserte in Suid-Afrika geskeduleer
word nie.
Daar is sowat 5000 kaartjies beskikbaar per vertoning en die pryse
wissel tussen R45 en R80.
Van Veen, wat al meer as sewentig albums in vier tale agter sy naam
het, se konserte is 'n mengsel van liedjies en sketse wat die unieke
Van Veen- stempel dra die nar wat die spieël vir die mensdom ophou
om enersyds te wys watter komiese en andersyds watter tragiese
wesens ons is. Een resensent het hom al beskryf as die Uilspieël van
ons tyd.
Van Veen het stemwerk, viool en musiekopvoeding aan die Utrecht-
konservatorium gestudeer. Ná hy sy graad gekry het, het hy sy debuut
gemaak met Harlekijn en begin om sy eiesoortige musikale teater te
vestig waarvoor die Commedia dell'Arte as inspirasie gedien het.
Hy is 'n superster in Nederland en Vlaandere en het ook al vir hom
naam gemaak in Duitssprekende Europese lande, Amerika, Frankryk,
Engeland en Japan.
Verskeie van sy grootste konserte is opgeneem soos dié in die
Amsterdamse Koninklijke Carré-teater, die Schauspielhaus in Hamburg,
die Concerthaus in Oostenryk, Carnegie Hall in New York, die
Ambassador-teater op Broadway en die Olympia in Parys.
Benewens sy liedjies, het Van Veen ook al musiek geskryf vir
verskeie rolprente en balletproduksies. Hy skryf ook draaiboeke vir
TV en is 'n baie gewilde skrywer van kinderboeke.
Van Veen het al verskeie pryse gewen vir sy rolprentwerk, vir
etlike albums en vir humanitêre werk. Hy is al vir 25 jaar lank 'n
welwillendheidsambassadeur vir Unicef en is die medestigter vir die
Columbine-Stigting 'n liefdadigheidsorganisasie wat op 'n klein
skaal gesondheids- en omgewingsprojekte in Europa en ontwikkelende
lande ondersteun.
In 1993 het 'n groot eer hom te beurt geval toe hy deur die
Nederlandse koningsgesin geslaan is tot Ridder in die Orde van
Oranje Nassau.
Hoewel Suid-Afrika nooit die geleentheid gekry het om dié
uitsonderlike kunstenaar te sien nie weens die kulturele isolasie,
het ons wel van sy musiek te hore gekom deur produksies van onder
meer Stephan Bouwer en by monde van kunstenaars soos Laurika Rauch
en Jannie du Toit. En in die laaste paar jare kon 'n mens darem ook
al van sy albums hier te koop kry.
Diegene wat al van sy video's gesien het, weet dié man is in die
kabaretgenre waarskynlik van die beste ter wêreld.
Buiten vir die twee konserte gaan Van Veen ook meesterklasse
aanbied alles op Oudtshoorn.
Kaartjies vir sy konserte is van vandag beskikbaar by Computicket.
terug naar de index