In de nieuwsbrief "Huis der Nederlanden" [mailto:hdn@mweb.co.za] van 8 september stond




Hoed af, Herman van Veen


Op 27 Augustus kon Kaapstad Herman van Veen in sy kabaret Hoed af, Herman van Veen aan die werk sien in die Kaapstadse Konferensiesentrum. Edith Leerkes (klassieke kitaar) en Wieke Garcia (perkussie) het hom begelei.

Mariana Malan het voor sy optrede met hom ‘n onderhoud gevoer en was so beïndruk met Van Veen as verhoogkunstenaar dat ‘n tweede artikel oor hom daarna in Die Burger verskyn het.


Die meester van die onverwagte het dié besliste mening oor verwondering: “As jy nie meer oor jouself verras is nie, kan jy maar doodgaan.” Herman van Veen, die Nederland­se kabaretsanger, praat nie net in die wind nie. Op 60-jarige leeftyd, met ’n suksesvolle verhoogloopbaan, is skilder sy jongste passie. Hy het drie maande gelede die eerste keer ’n kwas opgetel en sedertdien 25 skilderye “gemaak”.

“Dis ’n nuwe vreugde in my lewe. Ek skilder dinge soos ek dit sien. Ek haal dinge uit my lyf, speel met lig; en al het ek geen tegniek om van te praat nie, weet ek wat ek wil bereik. As ander mense dit ook mooi vind, is dit ’n bonus.”


Hy vertel van die skildery wat hy van sy viool gemaak het – in swart, wit en grys. As hy van dié instrument praat, is dit bewonderend en amper poëties. “My viool is vir my so dierbaar soos ’n kind. Ek het ’n verhouding met die viool, ek leef daarmee saam. Daar is iets in die geur wat ek nie kan beskryf nie. As ek dit uithaal om te speel, is alles goed. Ek beskryf hierdie vreugde in wit. Daar is ook altyd ’n magteloosheid in hierdie verhouding omdat ek weet ek kan die instrument nooit ten volle bemeester nie, daarom die swart.”
Die betrokkenheid by jong mense strek verder as slypskole. Hy is die stigter van vier organisasies wat hulle op die regte van kinders toespits en projekte in ontwikkelende lande ondersteun. In Suid-Afrika is een van hulle betrokke by die bou van ’n opvoedingsentrum in Soweto. In Jordanië loop ’n projek waarin sewe musikante van sewe Midde-Oosterse lande saam optree en mekaar beter leer ken en verstaan. Hulle gaan aanstaande jaar saam toer.

“Mense wat saam musiek maak, leer mekaar verstaan; hulle leer mekaar se gesinne ken. Dit kring uit. Verandering begin met een tree op ’n slag.”

Dit was Van Veen se sewende besoek aan Suid-Afrika. Hy erken filosofies dat hy steeds nie die plaaslike mense ken nie. Hy geniet dit om na Afri­kaans te luister en vind dié taal “buitengewoon fassinerend en fier.”

“Mense laat jou net soveel van hulself weet soos hulle wil. Ek ontmoet mense, maar ek leer meer deur mense dop te hou. Hoe kan ek mense ken as ek myself nie eens behoorlik ken nie?”

Hy troos hom daaraan dat gehore hom ook nie werklik ken nie. Hulle bly wonder of hy werklik bedoel wat hy sê of regtig sê wat hy bedoel. Dis vir hom genoeg as hy en sy gehoor mekaar halfpad ontmoet.

Na sy optrede, het Mariana Malan die volgende oor hom as kunstenaar gesê: Die persoonlike kennismaking met Van Veen het my bewondering vir hom laat groei. Dit het die gerusstelling gebring dat die man wat die eenvoudigste gemoedstoestand in ’n intense emosie kan omskep, opreg is. Dit was egter in die onderrigsituasie waar bewondering plek gemaak het vir respek, juis vanweë sý respek vir die studente met wie hy gewerk het.

“Talent is geen verdienste nie. Wat jy daarmee maak, is die verdienste,” was ’n stukkie lewenswysheid wat die studente met hulle kon saamneem huis toe.

Dieselfde respek, fyn aanvoeling en medemenslikheid het uit die kabaret Hoed af, Herman van Veen Saterdagaand in die Kiks na vore gekom. Terwyl hy sy spel van grapjas en filosoof gespeel het, was hy een met die gehoor. Hy was nie te belangrik om aan ’n aangrypende versoek gehoor te gee nie. Hy was nie te haastig vir meer as een toegif aan die einde nie. Hý was die enigste mens met wie hy die spot gedryf het.

Hoed af, Herman van Veen - as kunstenaar én mens.