7 september 2005 verscheen in Zuid Afrika, geschreven door Paul Noekkooi


Herman van Veen sonder maskers
Hoed af, Herman van Veen


Opera, Staatsteater

Paul Boekkooi


“Praak ek met God, dan noem ons dit bid. Praat God met my, dan noem ons dit psigose.”
Herman van Veen, vanjaar 60 en 40 jaar op die verhoog, laat jou drie keer nadink oor wat hy te sê het, soms in díe volgorde: daar‘s ‘n reaksie, dan ‘n teenreaksie, en, eers veel later, rasionaliteit.
Hy’s nog steeds die teaterdier par excellence - van oertipes tot dié wat hy self skep. Soos dié Nederlander in onlangs gepubliseerde plaaslike onderhoude laat blyk het, is die verhoog nie vir hom die plek van sekerhede nie. Dit is dalk júis die teenoorgestelde wat hom daartoe dryf om voort te gaan.

In die openingslied oor die huis in Amsterdam-Zuid wat ‘n mens nooit weer kan binnegaan nie, kon ‘n mens Van Veen se emosie oor verbygaande dinge aanvoel en bowendien waarneem in sy uiteenlopende gesigsuitdrukkings. Saterdagmiddag was iets van die pyn van herkenning daar.
Hy leef hom in élke oomblik in. Nie net is dié keer die hoed af nie, maar veral ook al die maskers wat hy nooit besit het nie. Die opstandigheid van sy jeugjare is nie daarmee heen nie, maar dit word anders vergestalt, met ‘n diep deurborende, ironiese sagtheid eerder as maagopstoppers.

In sê maar die 12de eeu zou Van Veen ‘n beeldebestormer wees, maar hy sou steeds ‘n skouspel van die mensdom se stiksienigheid maak. Nou spreek hy vaders se oorloglustigheid aan, asook die fundamentaliste van die Christendom en die Islam. Durf enige van dié twee ‘n vinger wys?
Van Veen doen dit ook nie. Hy skryf eerder ‘n gedig, komponeer ‘n lied, vertolk dit en stort sy mededeelsaamheid op elke wêreldburger uit. Geen lied is ooit fiksie nie. Die skeppingsdrang is altyd op realiteit gegrond, soos die eindkoeplet van De vaders wat in ‘n Afrika-konteks baie voorspelbaar ‘n ander slotwoord kry: “dood” pleks van “groot”.

Vir elke keer dat Van Veen sy toeskouers ruk, verruk hy ook, soos met die lied Nooit of nooit, sy beskrywing van sy ervaring in ‘n Pretoriase tuin met ‘n ibis wat in die lang gras pik, op die voorlees van ‘n vertaalde Jacques Brel-teks. Ook sy eie woorde op The windmills of your mind het diepgaande emosies laat saamkrop.
Hy’s steeds en sal ook altyd die onsterflike nar bly. Hy toon dit op soveel onderskeidende en genuanseerde wyses dat dit nooit enige ambagsgeheime openbaar nie.
‘n Mens het lank bly wonder: waarvoor die klavier op die verhoog? Net vir ‘n paar klankeffekte? Toe hy teen die einde sy vertolking lewer van drie preludes van ‘n Russische komponis met ‘n m en w in sy naam wat met “ski” eindig, kon niemand voorbereid wees op die geniale stukkie klawerbordparodie en hansworsery wat hy sou loslaat nie. Ook sy weergawe van ‘n Barok-opera waarin hy alle stemme - selfs dié van die koor! - sing (behalwe vir die bariton wat aan die ergste vorm van ekshibisionistiese narcisme gely het) was ‘n voltreffer vir almal met ore, om nie eens van sy mimiek te praat nie.

Van Veen is sterk gerugsteun deur sy twee vroulike mede-spelers en begeleiders - die kitaarspeler Edith Leerkes wat haar instrument feitlik as ‘n vierde persona op die verhoog vestig en in elke styl met karakterryke en passie gevulde spel vorendag kom.
Ook Wieke Garcia met ‘n magdom ander instrumente en haar loslittige stem het die kaleidoskopiese klankrykdom van die vertoning afgerond.
Hoed af, Herman van Veen was ‘n besielende reis vol self-ironie, maar ook ‘n blik op ons bestaan wat die hart by tye beklem.
Baie Europees, ja, maar tegelyk ook ‘n vingerwysing na die vlak van ondergemiddeldheid wat in ons eie sogenaamde “kabaretwêreld” vol holle beloftes floreer.