Johann Botha
die Burger
Minstreel met 'n ander perspektief 6 juni 1996

BUITELUGKONSERT: Herman van Veen. DIS 'n aangeleerde smaak soos enkelmout-whiskey. Fynproewers is gek daaroor. Naas sy ongetwyfelde musikaliteit is dit Van Veen as intelligente en sensitiewe waarnemer van sy medemens wat be ndruk. Maar nie maklik om te kategoriseer nie. Self sing hy in ``Tevreden man'' uit 1987: ``Laat de oppervlakkigen/ mij oppervlakkig noemen/ de sentimentelen/ mij sentimenteel/ de wizen/ wijs/ de gekken gek/ de anderen anders''. Hy speel ten dele harlekyn waarin die luisteraar homself kan herken; waardeur Van Veen kommentaar lewer oor wat dit is om mens te wees maar is in groter mate minstreel, verteller met sang van wat hy sien op sy omswerwing deur die wêreld.

So bring hy 'n Europese perspektief na Afrika; en sal hy sekerlik daar gaan ``rapporteer'' oor wat hy hier gewaar het. Vermoedelik vertel van 'n land waar die lewe nog kras is. DIVA. Met Amanda Strydom. DIE Diva is Strydom; dis ook die karakter wat sy vertolk; én 'n teater wat beter dae geken het. Strydom sing en vertel van Beatrice le Seur (vroeër Bets le Roux van Fordsburg) se loopbaan as kabaretster.

Verskeie nommers in Brel styl. Sterk vertolkende stem. Maar te veel vertelling van die ou dae in teater lei tot 'n enigsins tam vertoning. JB. OPERA GALA. Pro Arte Orkes onder leiding van Weiss Doubell, met verskeie sangers. DIE twee Figaro operas die Bar bier van Sevilla en Die Huwelik van Figaro is netjies verkort, en daar is hoofsaaklik op ensembles gekonsentreer. Die orkes en sang was knap, al was die stemme nie altyd toereikend nie. Maar sulke geleenthede is nodig om operatalent te help ontwikkel.
Die opwindendste jong stem is die diep mezzo-alt van Charlotte Silulu 'n klank wat jou onmiddellik laat regop sit en kennis neem. Estelle Kruger se ondervinding het gespreek in goeie vertolkings, goeie stemgebruik en 'n gemaklike verhoogpersoonlikheid. Wilhelm Theunissen het die ideale stemtoon vir dié soort opera, en het plesier gegee, ondanks aanvanklike intonasieprobleme. Si mon van Rensburg het 'n aangename verhoogpersoonlikheid, maar die bariton is nog te lig. Dieselfde probleem is te vind by Petros Mofokeng bruikbare talent wat egter nog moet ontwikkel.
Die veteraan Rouel Beukes het getoon tot watter mate opera kan vermaak in spel en in sang. 'n Mooi stem, maar Marelize Gerber was net te liggies vir Mozart se gravin. Braam Muller.