Kobus Burger schreef 3 mei 1999 in Die Burger (SA)

Van Veen nie hier om te sing maar om hand uit te strek



DIE BURGER - maandag 3 mei 1999
DIE Nederlandse kabaretkunstenaar Herman van Veen bezoek Suid-Afrika aanstaande maand. Hy kom egter nie konsert hou nie. Van Veen gaan op 17 Mei die amptelike opening van die Columbine Kraaminrigting by die Nsluvo Mediese Sentrum in Elandskroon naby Groblersdal bywoon. Dié kliniek staan onder beskerming van die Herman van Veen Stigting en word deur die Stichting Columbine gefinansier. In 1996 het Van Veen feesgangers op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gaande gehad met sy optredes, en dit in Mei 1997 opgevolg met 'n toer. Hy het toe in onder meer Johannesburg, Pretoria en Potchefstroom opgetree. Met sy jongste besoek beplan hy egter om ook uitgewers en verskeie plaaslike rolprentvervaardigers te ontmoet om "toekomstige projekte" en 'n "moontlike filmproduksie in Suid-Afrika" te bespreek. Van Veen het al musiek vir rolprente gekomponeer en 'n TV-animasiereeks met die karakter Alfred Jodocus Kwak geskep. Daarvoor is hy in 1990 met 'n Goue Kamera prys bekroon.
By die Berlynse Rolprentfees het hy 'n Silwer Beer ontvang en verskeie pryse by die Internasionale Rolprent- en Televisiefees in New York. "Weens organisatoriese struikelblokke is 'n konserttoer na Suid-Afrika vir Herman van Veen tans buite die kwessie," het Christien Coetzee, Van Veen se agent in Switserland, gesê. Daar is wel sprake van twee private konserte wat nog beplan word.

Ná die opening van die Columbine Kliniek gaan Van Veen konsert hou met die Nederlandse kitaarspeler Edith Leerkes en die koor van die Laerskool Groblersdal. Die Herman van Veen Stigting is twee jaar gelede ten tyde van dié kabaretster se toerbesoek aan Suid-Afrika gestig om kinders te help om hul kreatiewe talente en gawes te ontwikkel en uit te leef. Die tweede fase van die ontwikkelingsprojek in Elandskroon is 'n kultuursentrum, met 'n musiekskool, teater en radio-ateljee. 'N Moontlike volgende projek is om Suid-Afrikaanse wyn ten bate van die stigting in Nederland te bemark. Die stigting se inkomstebron is geld uit die verkoop van Van Veen T-hemde, truie, pette, reënbaadjies en ander artikels by konserte, die verkoop van Alfred Jodocus Kwak handelsware, geldelike bydraes van die Stichting Columbine en skenkings van individue.


KOBUS BURGER


terug naar de index