in oktober 2003 verscheen in de Zuid-Afrikaanse pers

Hougaard dra nou Jackie O. se sonbril

First Lady op Aardklop

EERS was Karin Hougaard die instaner vir die rol van die enigmatiese Jacqueline Onassis in die Nederlandse produksie First Lady. Sy het egter só beïndruk dat Herman van Veen, Nederlandse kabaretmeester en spelleier van dié stuk, 'n spesiale rol vir haar vir die opvoerings verlede jaar in Nederland ingewerk het. Hougaard was verlede jaar vir drie speelvakke in Nederland. En nou, op Aardklop van 23-27 September in Potchefstroom, sit Hougaard self die sonbril op - Jackie O. se sonbril. First Lady is geskryf deur die aktrise Lori Spee, 'n Amerikaanse Nederlander, wat in Nederland die rol van Onassis gespeel het. Hougaard vertel Van Veen was in Suid-Afrika net voordat met First Lady begin is en dit is toe dat hy haar as instaner geï dentifiseer het indien Spee siek sou word. Op Aardklop sal Spee as assistentregisseur 'n ogie oor First Lady hou.

Van Veen se vrou, Gaetane Bouchez, vertolk ook een van die rolle. Die skuif van kabaretsang na toneel is vir Karen 'n "reuse-sprong". Hoewel nie suiwer toneel nie, is First Lady ook nie kabaret nie. Dis 'n verhalende teks met musiek by en dus moeilik om te kategoriseer. Die stuk van sowat 80 minute handel oor Onassis wat 'n bandopname vir haar kleindogter maak sodat sy eendag na haar ouma se lewensverhaal kan luister om te weet wie die vrou agter die sonbril werklik was. Onassis was getroud met die Amerikaanse president J.F. Kennedy wat in 1963 deur 'n sluipmoordenaar doodgeskiet is terwyl die egpaar in 'n afslaandakmotor gery het. As presidentsvrou het sy skoonheid, intelligensie en 'n gekultiveerde smaak na die Wit Huis gebring. Die wêreld het haar ná Kennedy se dood bewonder vir haar dapper hantering van die tragedie, maar dit het haar ook alle privaatheid ontneem. In 1968 is sy met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis getroud nadat hy jare lank 'n verhouding met die operasanger Maria Callas gehad het. Ari Onassis is in 1975 dood waarna Jackie redakteur van die uitgewery Doubleday geword het. Hougaard is die afgelope twee jaar die uitvoerende produksiehoof van 'n nasionale bemarkingsmaatskappy, iets wat 'n "betroubaarder inkomste" bied. "Ongelukkig moet meer kunstenaars hul toevlug tot die korporatiewe wêreld neem .

As jy net van musiek afhanklik is, sal dit jou passie daarvoor vermoor omdat jy nie met die wisselvalligheid van die bedryf kan saamleef nie." Hougaard werk wel aan 'n nuwe album waarvan sowat 80% voltooi is en wat voortbou op haar eerste twee albums, Bly en Muse . Die voorlopige titel van die nuwe album is Hartstukke . Die samewerking tussen Van Veen en Hougaard het ook gelei tot Karin Hougaard sings Queen waarmee sy op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees groot en tevrede gehore gelok het. Van Veen is die regisseur.

Bel (018) 294-7509 vir inligting oor Aardklop. Die e-pos-adres is admin@aardklop.co.za.