FRANCOIS SMITH
die Burger (SA)
Gewigtige temas in korterige verhale 9 aug 2000

VERHALE deur Herman van Veen, uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo. Queillerie, 2000. (Sagteband, 96 bladsye, ISBN 0 795 80011 8, R69,95).

DIT is 'n klein bundeltjie deur Herman van Veen, in alle opsigte dun, en straks weinig meer as 'n aandenking aan sy talle bewonderaars hier te lande. Tog takel Van Veen in die sestien korterige verhale en een gedig gewigtige temas: adolessensie, God, die Oorlog en Suid-Afrika.

Die eerste drie verhale, die bekoorlikste in die bundel, handel oor die skrywer se grootwordjare in Utrecht. In die openingsverhaal, ``Die badhuis'', kry hy dit reg om uit die perspektief van die jong kind die spannende afwagting en uitgelate ontdekking van 'n mannewêreld atmosfeerryk en vertederend weer te gee. Die beste van die grootwordverhale is ``Erlkönig'' waarin 'n Duits-onderwyser se lesse in taal en musiek op 'n bykans magiese wyse hede en verlede verbind.

Van Veen se verhale oor God, ``Kaal'' en ``God'', kan ook met 'n kinderbelewenis verbind word, maar só gaan hy God allermins terugskryf in die Nederlandse letterkunde. Dié verhale lui die middelmatige argeloosheid van die grootste gedeelte van die res van die bundel in: al te voor die hand liggende politieke kapstokke, verhale wat in die anekdotiese bly steek en 'n engerige perspektief wat in die gedig ``Trog'' en die futuristiese verhaal ``Noag'' na die verspotte neig.

Benewens die jeugverhale is die uitsonderings ``Denver'' en ``Mendelssohn''. Eersgenoemde is 'n spannende spel met verbode begeerte. Die vertelling is beheersd en die waarnemings skerp.

``Mendelssohn'' is seker die ontroerendste verhaal in die bundel. Dit gaan oor Van Veen se skoonpa wat graag na sy grammofoonplate geluister het, en dan daarby aan die slaap geraak het. Hy was 'n man van swak gesondheid, en een dag, terwyl hy ingedut het, het die kat op sy skoot gespring. Hy het met 'n slaperige glimlag opgestaan, die plaat afgehaal en dit aan Van Veen oorhandig.

Dit was ``die begin van die einde''. Die verhaal is 'n mooi koestering van die liefdevolle herinneringe wat generasies met mekaar verbind.

Die kortaf Nederlandse segswyse klink vir die Afrikaanse oor altyd nuut en interessant, en in Hugo se vertaling het dit outentiek behoue gebly. 'n Mens kan hoogstens dalk frons oor enkele van die woordkeuses soos ``bagasiedraer'' (bl. 6), ``braai-apparaat'' (bl. 63).

Moontlik dien die toevoeging van 'n beknopte CV agter in die bundel as herinnering daaraan dat Van Veen ondanks dié skraal poging tog 'n kunstenaar van aansien is.

Francois Smith is verbonde aan die kunsredaksie van Die Burger.