Pers bericht Zuid Afrika juni 2005




VAN VEEN - 'N TORNADO VAN EMOSIES – IN S.A.


Die Nederlanse verhoogkunstenaar, Herman van Veen, wat onlangs deur die Europese pers beskryf is as " 'n tornado van emosies" sal sy besige Europese skedule einde Augustus onderbreek vir vertonings van "Hoed af, Herman van Veen" in Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. Vanjaar vier Van Veen sy 60ste verjaardag en ook 40 jaar op die verhoog. Bespreek nou by Computicket.

In "Hoed af, Herman van Veen", sal Van Veen begelei word deur Edith Leerkes, wat SA gehore in 2001 reeds bekoor het met haar vakmanskap op klassieke kitaar, en Wieke Garcia, 'n talentvolle jong perkussiespeler en bekorende sangeres. Gehore kan verwag om nuwe materiaal uit Van Veen se pen te hoor, insluitendende liedjies en vertellinge oor sy lewe, soos altyd met 'n tikkie ironie en melankolie ingekleur. Van Veen se buitengewone musikaliteit kom meer as ooit tevore in sy passievolle vioolspel en sang. Sy vermoë om gehore te boei het hy oor die jare geslyp tot 'n fyn kuns. 'n Duitse joernalis het onlangs geskryf:

" Hy't gekom, gesing en geseëvier.... "

Sedert sy S.A. debuut by die KKNK in 1996, het Van Veen Suid-Afrika reeds verskeie kere besoek om op te tree en om projekte waarby die Herman van Veen Foundation betrokke is te bevorder. In November 2004 het hy die opening van 'n eko-opvoedkundige program in Mpumalanga bygewoon, waarvoor hierdie stigting fondse beskikbaar gestel het. Hy droom tans daarvan om te help met 'n projek om 'n teater in Soweto op te rig.

"Hoed af, Herman van Veen" word aangebied in die Kaapse Internasionale Konferensiesentrum op Sa. 27 Augustus, en daarna by die Mosaïek in Johannesburg op Do. 1 September en in die SA Staatsteater in Pretoria op Sa. 3 September. Besprekings by Computicket. Vir verdere inligting: www.hermanvanveen.co.za



Vir verdere inligting, foto's of onderhoude:
Christien Coetzee
Publisiteit en skakelwerk Herman van Veen 2005
Diva Management vir Muse Events
chris_diva@telkomsa.net
084 356 8833
Persvrystellings is beskikbaar in Engels en Afrikaans.

webwerf: www.hermanvanveen.co.za of www.hermanvanveen.com