Christien Coetzee schreef in Juni 2000 in NASIONAAL

Van Veen van Cannes na Kaapstad



Na meer as drie dekades op die verhoog lok Herman van Veen steeds vol sale oral waar hy optree. Van 18 tot 27 Junie vanjaar sal dié kabaretmeester weer op Suid-Afrkaanse verhoë te siene wees.

Van Veen se vermoëns is al deur die Amerikaanse aktrise Shirley MacLaine beskryf as 'n uitsterwende vakmanskap. Hierdie vakman het gedurende sy 30 jaar in die vermaaklikheidsbedryf verskeie genres verower. Hy het al meer as 115 cd's in vyf verskillende tale opgeneem.

Hy is bekend as kinderboekskrywer, onder meer van die wêreldbekende reeks Alfred Jodocus Kwak. 'n Bundel van sy kortverhale, Herman van Veen: Verhale, het in 2000 in Afrikaans by Queillerie verskyn. Van Veen is aktief as draaiboekskrywer, akteur en regisseur op die gebied van film en televisie. Hy het pas 'n rol in die Duitse film Poems deur die regisseur Ralf Schmerberg gespeel. Schmerberg is bekend vir die musiekvideo's wat hy vir Björk en Madonna vervaardig het.

Verlede jaar was Herman van Veen by die Cannes Filmfees om die première van Le conte du ventre plein, 'n film deur Melvin van Peebles, waarin hy 'n hoofrol gespeel en temalied saam met die operasangeres Barbara Hendricks gesing het, by te woon. Dié film is as die beste Franse film by die fees benoem deur die filmtydskrif La semaine de la critique. Sy eie draaiboek Nachtvlinder waarin hy die rol van die booswig vertolk het, is in 1999 verfilm.

Tydens sy Suid-Afrikaanse toer word Herman van Veen deur drie opwindende musikante begelei - die kitaarspeler Edith Leerkes, die violis Jann en die pianis Erik van der Wurff, almal kunstenaars in hul eie reg. Leerkes, 'n voormalige lid van die bekende Amsterdamse Kitaartrio, werk sedert 1998 voltyds saam met Van Veen en het reeds verskeie cd's saam met hom geskryf en vervaardig.

Jann, 'n talentvolle violis, is 'n nuwe lid van Herman se ensemble musikante wat ook in Nederland bekend is as jazz sangeres. Erik van der Wurff werk reeds sedert 1963 saam met Van Veen. Hy is bekend as komponis, dirigent en uitvoerende kunstenaar en het reeds verskeie toekennings vir sy werk ontvang. Die kombinasie van dié vier talente beloof om aan gehore vermaak uit die boonste rakke te verskaf.

Hoewel Van Veen op internasionale vlak hoofsaaklik as verhoogkunstenaar bekend is, is hy ook betrokke by ontwikkelingswerk. In 1997 het hy die Herman van Veen Foundation in die lewe geroep. Hierdie stigting se doelwit is om kinders te help en te lei om hul kreatiewe talente en gawes te identifiseer en te ontwikkel. Twee van Van Veen se vertonings in Suid-Afrika is ten bate van plaaslike ontwikkelingsprojekte waarby hy betrokke is.

Van Veen tree nog op 26 en 27 Junie in die Staatsteater in Pretoria op. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Vir verdere inligting, kontak Christien Coetzee of besoek Van Veen se webblad.