Lenelle Foster schreef in Dag en nag - Arts and Entertainment april 2002

Driekuns gebeurlikhede in Mei en Junie



It never rains, but it pours, sę die Engelse. En kunsliefhebbers moet hulle gereed maak vir 'n stortvloed vermaak in die komende maand.

Dowwe Dolla gee na 'n suksesvolle speelvak by die KKNK — waar sy ook haar CD's en kondome bekendgestel het — haar beste in die Klein Libertas- teater. Die produksie is 'n samestelling van hoogtepunte uit al vier haar vorige shows: Staatslet, Krismisdoos, Ereksie '99 en Vigs en Gesond.

Kaartjies vir die stuitige blondine se twee vertonings (25 en 26 Mei) kos R35 (R30 vir studente). En diegene wat meer wil weet oor die satirikus met die suigstokkie, kan gerus haar webblad besoek.

Indien Stellenbossers nie genoeg rock gekry het by die Departement Drama nie, kan hulle op 16 Junie (heel gepas dan ook Jeugdag) opruk na Napier vir die Tassenberg Innieskuur Rockfees.

Valiant Swart, Delta Blue, Brasse vannie Kaap, Spinnekop, Robin Auld, The Flowerheads en New World Inside is van die musici wat vanaf 15:00 dinge aan die brand gaan speel.

Kaartjies kos R60 — kampering is gratis — en kan by die Napier Hotel, Ticketweb of by die hekke (op die dag van die konsert) gekoop word.

As derde item op die spyskaart, beloof Nederlander Herman van Veen om nie teleur te stel nie.

Op 18 en 19 Junie tree hy in die KunsteKaap Operahuis op saam met Edith Leerkes (kitaar), Jann (viool) en Erik van der Wulff (klavier). Besprekings kan deur Computicket gedoen word.


Van Veen, wat verlede jaar ook in Suid-Afrika getoer het, het onlangs sy nuwe CD, Je zoenen zijn zoeter, vrygestel. Besoek sy webwerf by www.hermanvanveen.com